Sondag 28 Julie 2013

22 - 28 Julie 2013

Jammer ons het ’n week gemis, was in SA die naweek 20-21/07, Nelmarie, LeRoy en Peet het ons daar gekry vir ’n besoek van ’n week in Mosambiek. Daar het nie iets groot gebeur daardie week nie.
Ons is Sondagoggend 21/07 vroeg weg vanaf Marloth om betyds te wees vir kerk op Zimpeto, maar by die grens beland ons in ’n tou voertuie wat staan. So met tyd word die gewone reisigers tussen die ander uit gehaal en deurgestuur, want al die taxi’s word eers deurgesoek in SA kant en blokkeer die pad totaal om deur te kom tot by doeane kantore. Ons gewone voertuie word toe teen die voorafverkeer ingestuur om verby die blokkasie te kom. Daar is 3 afdelings beamptes wat daar betrokke is, Fidelity wat hekpasse uitreik by die ingang, die SAPS beamptes wat volgende inlyn is en die verkeer volgens my moet beheer en laaste doeane beamptes wat die voertuie deursoek. Wel terwyl Fedility ons teen die verkeer in deurstuur om, om die taxi’s te kom, keer ’n polisiekonstabel ons almal voor en wil ons nie verder laat ry nie, want dit mag nie gebeur nie, maar sy kollegas het nie die taxi’s behoorlik beheer nie en gevolglik moet almal maar net wag volgens hom. Ons almal het egter gekerm en gekla en hy moes ons laat deurgaan, bygesê daar is nie enige gevaar deur teen die verkeer in te ry nie want die spoed is laag en daar was geen verkeer op daardie stadium nie.
Ons eindig 11:15 in Zimpeto en is steeds betyds vir die laaste deel van die kerkdiens. Sondagmiddag gaan wys ons vir die kinders Maputo.
Sondag laat middag kry ons ’n boodskap dat die Brasiliaanse pastoor, wat met ‘n  groep van haar kerk op ’n uitreik was, in ’n insident betrokke was waar ’n kind in haar motor vas gehardloop het terwyl sy gery het en dat die kind dood is.  Nou die gebruik hier is dat jy in die trok geplaas word wanneer daar ’n kind dood of beseer is in ’n ongeluk. Ons bid almal dat dinge goed moet verloop en vir die famielie van die kind. Dinge het besonder goed verloop, die hele groep het besluit om by haar te bly en almal het in hulle voertuie geslaap by die polisiestasie by haar en by ’n naby geleë kerk. Na ’n lang gewag en onderhandelinge is sy eindelik Maandagaand toe gelaat om te vertrek. Almal is dankbaar dat alles goed verloop het, al was daar moeilike tye. Die kind se pa is ook ’n pastoor en die familie het besluit om nie ‘n klagte te lê nie. Daar was ’n goeie verhouding tussen die familie en die Brasiliane tot so ’n mate dat die polisiehoof by die betrokke polisiestasie hulle almal gevra het om vir haar te bid want daar is baie probleme op daardie pad en die partye baklei altyd na ’n ongeluk.
Maandagoggend val ons in die pad Macaneta eiland en Jay’s Beach Lodge waar daar vir 2 aande plek bespreek was. Die laaste 3km is net vir 4x4’s, dik sand en Petrus kry sy oefening in sandbestuur, Peet se mening is dat dit die naaste is wat Petrus aan die Dakar sal kom. Ons bereik die bestemming sonder voorval.
Dis egter mooi en rustig daar. Die mense is vriendelik en help tot uit met die eiers wat by die huis vergeet is. (Hoe mens dit heel daar sou gekry het wonder ons, dis nou oor die pad.) Ons het tot ’n hond of twee gekry wat heeltyd naby was. Baie gehoorsame Afrikaanse honde wat huis toe gaan as ons hulle van die strand af huis toe stuur en sit wanneer die bevel gegee word. Die honde het ook vir die werkers geblaf as hulle kom om die donkie te stook sodat ons ’n warm stort kon kry. Dit was bietjie winderig veral in die oggende, maar die dae was lekker, veral op die strand. Ons het pragtige sonsopkomste as ook sonsondergange gehad en die volmaan het die nag helder verlig. Ons het dit baie geniet. Woensdag toe ons by die pont kom om oor die rivier te kan gaan, is die pont stukkend, maar hulle is gelukkig alreeds besig om die herstelwerk te doen. Ons het so ongeveer ’n uur gewag voordat dit herstel was en ons oor kon gaan.
Dit gaan beter met beide van die siek kinders. Lucia is gister ontslaan, maar nog baie swak en sal moet fisio-behandeling kry. Bid asseblief steeds vir hulle. 
Saterdagmiddag is ons te voet saam met die klein seuntjies, tia en educator na die siek tia se huis iewers agter die sentrum. Dit was nie net vir ons vreemd nie, maar ook vir die mense in die gemeenskap. Hulle het nie mooi geweet wat om te doen as hulle ons saam met die ander sien nie. Die tia en haar mense was ook verras en het soos in SA ook dadelik vir ons stoele gebring om op te sit. Na ’n bietjie uitvra oor wat verkeerd is en ’n gebed, stap ons weer terug sentrum toe.

Vanoggend Sondag, tydens die diens is daar ook ’n troue en so raak ons toe ook deel van die verrigtinge. Gedurende die trouserimonie roep hulle ander getroudes om ook voor te gaan staan en niemand gaan nie en die tolk spoor ons aan om te gaan. Toe ons eers bo-op die verhoog is, kom daar toe nog ’n paar uit hul bruilofsgaste vorentoe. Ons moes toe ook vir hulle ’n boodskap gee en saam met almal ’n seën-gebed vir hulle doen.
Foto's geneem deur Peet
Tou by grenspos Sondag

Pont om oor die rivier te kom na Macaneta Eiland
Jay's Beach Lodge en die hond






Sondag 14 Julie 2013

8 - 14 Julie 2013

Ons het nou ook die 12 groot seuns (12 en 20) in die camerada, waar ons groep kleiner seuns is, gekry om na die praktiese sy om te sien. Dit beteken die hele camerada is nou ons verantwoordelikheid, wat insluit instandhouding van gebou en kinders en handhawing van dissipline. Die dissipline het ook reeds na vore gekom met een seun wat gehok is om saans die sentrum te verlaat omdat hy een aand dronk teruggekom het sentrum toe. Vrydagaand was hy en drie ander uit en het reg langs ons verby gestap, van die hek af. Hierdie moet Maandag hanteer word. Dus soos julle kan sien ons het nou nog meer julle gebede nodig vir wysheid en geduld met die hantering van die groot seuns ook.
Dinsdagoggend het ons gehoor dat die ‘educator’ van ons camerada wat siek in die hospitaal was, dood is, dis vir almal ’n groot skok, hy was by almal bekend en geliefd.
Woensdagaand by Home Group bid ons spesifiek vir die 2 dogters wat siek is, een (16 jarige) was ’n maand lank in die hospitaal met diabetes wat nie stabliseer nie en die ander een is ’n dogtertjie van 5jr wat 2 weke in die hospitaal was, effens beter was en wat nou weer baie siek is, dit lyk of sy dalk breinvlies ontsteking het, maar ook TB. Sy is so pragtig, terwyl sy so siek is, het sy nog steeds ’n glimlaggie vir almal, dis die een wat in die hospitaal vir die ander kinders van Jesus vertel het.

Donderdagmiddag gaan meeste kinders, tia’s, ‘educators’, sendelinge en personeel begrafnis toe. Dit werk hier so; almal gaan graf toe en die diens word ook daar gehou langs die graf. Dan kan almal wat wil na die lyk gaan kyk en party het ook parfuum gespuit. Daarna word die kis laat sak en toe gegooi. Deur-en-tyd sing en bid almal rondom die graf. Die begrafplaas is nie soos ons dit ken nie. Dit is redelik verwaarloos en die grafte is nie in eweredige reguit rye nie, party sit skuins en dit lyk deurmekaar. Die grafte word gebou met sementstene en geplyster. Party is al oud en die sement gebreek. Sommiges het teëls op en ander is beplant met struike en selfs spekbome. Ons kon nie naby kom nie en na die einde se kant toe het dit liggies begin reën en ons het ook net die voertuie gehaal voor dit harder begin reent het. Donderdagaand val daar weer reën, so 10mm en Vrydagoggend is  alles skoon en lente in die lug.
Vrydagaand gaan ons by een van die sendeling na ‘n  ‘bunco bash’ toe, dis pret en party is skoon stuitig en ons lag baie. Elkeen wat daar was gaan huistoe met ‘n ‘prys’.
Saterdag is nie een van ons aan diens nie en ons hou ons skaars. Sorteer ’n paar goed uit en maak skoon ensovoorts. Die middag het die seuntjies kom DVD kyk.

Sondagoggend is ons kerk toe in die sentrum, daar is ’n groep Indiër-sendelinge van ’n sendinggroep (kan nie naam onthou nie) in Durban, dit het vreemd gevoel om Indiërs te sien wat Christene is (die Indiërs waarmee ons te doen gekry het in SA is almal moslems), hulle het ook ’n paar geestelike liedjies vir ons gesing. Die diens is dit weer in drie tale en die vrou wat voorgaan het ’n skerp stem wat saam met die volume van die klankstelsel jou totaal doof maak en die Engelse tolk kan ook nie gehoor word nie. So na ’n rukkie het ons moed opgegee en met seer ore en hoofpyn het ons maar geloop. 

 Foto's by die begrafnis:







Dinsdag 09 Julie 2013

1 - 7 Julie 2013

Maandag begin die kerkkonferensie slaapplek word gesoek vir meer konferensiegangers as waarvoor beplan en in Mosambiek is daar nie so iets soos daar is nie meer plek nie, daar word plek gemaak. Tema van konferensie is onbekend vir ons en ek is nie so seker die konferensiegangers weet self nie.
Maandagaand arriveer Georgian Banov met ’n span van 30, gaan Google as jy meer van hom wil weet. Ons moes hom huisves en versorg. Saam met hom kerkdiens toe gaan,  waar hy saam met die worship team op sy viool gespeel het, maar ons kon nie juis die viool tussen die ander verdowende klanke hoor nie. Hy preek ook en so 9 uur kon ons huistoe gaan.
Dinsdagoggend na ontbyt is hulle Bocaria toe. Vir middag/aandete besluit die baas ons moet braai (hy maak seker hy word uitgenooi en dat daar aartappelslaai is) en daarvoor moes ons eers weer stad toe vir vleis. Tussen alles deur die oggend, ontvang ons opleiding oor gebedsgenesing van die Australiese paartjie, wat die naweek vir ons ’n werkswinkel gehou het oor die huwelik. Hulle bedryf voltyds ’n gebedsgenesing kliniek in Australië. Belangrike punte wat hulle aan ons uitwys, is dat God besluit wanneer genesing sal plaasvind (dadelik, oor ’n tydperk, ’n later datum bv. jaar of wanneer die persoon Hemel toe gaan) en hoe dit gaan gebeur (dadelik deur ’n wonderwerk op daardie tydstip van gebed, deur ’n dokter se hande met medikasie of deur ’n operasie) maar steeds tot eer van God.  Dinsdagaand is daar weer ‘n kerkdiens waar ‘n pastoor wat in Georgian se span is, preek. Daarna bid Georgian vir ons hoof pastoor uit verskillende plekke in die Bybel wat naby aan ’n uur geduur het. Daarna bid sy span vir konferensiegangers wat voorentoe gekom het, die duiwel word ook uit ’n vrou gedryf en dit is nogal angswekkend saam met geweldige harde musiek en dromme, en so teen 10uur besluit Georgian dis tyd om te gaan slaap, die baas en Alta het reeds verdwyn, Alta moes ’n batterylaaier gaan soek vir die gas se AppleMac rekenaar en net Petrus, doof van die musiek, was oor om hom terug te vergesel. Ons het eers na 12 in die bed gekom.
Woensdagoggend na ontbyt vertrek Georgian. 9 uur is daar gebedsgenesing vir konferensiegangers en die gemeenskap deur die groep wat die vorige dag opgelei is, daar vind talle genesings plaas onderandere ’n been wat langer word om by die ander een te pas, verlamde arm herstel en ’n vrou ontvang genesing wat sedert die geboorte van haar baba buikpyne gehad het. Eer aan God. Die aand het ons weer kerk as afsluiting van die konferensie.
Donderdag rus almal van die vorige dae se besig wees.
Vrydag is ons stad toe vir die maand se aankope vir die baba’s.
Saterdag herstel ons nog steeds van die week se dinge en Saterdagaand is ons huis weer oop  vir sendelinge wat wil kuier (geselskap soek)
Sondagoggend vat ons die pad Matola toe na die Afrikaanse kerk toe met Cathrine en 2 besoekers van SA, dis afrikaansprekende dames van die Kaap. Na kerk word daar vleisgebraai en doof gepraat deur die vroumense.


Hier is ’n link na YouTube van ’n video wat Petrus geneem het van ‘worship’, sit net die klank deur ’n versterker, sit ’n luidspreker langs elke oor en stel die klank op 90% van maksimum en jy sal hoor wat ons gehoor het.

Dinsdag 02 Julie 2013

24 - 30 Junie 2013

Woensdag word Kanssane ge-opereer en die operasie is suksesvol, sy was vir drie dae in intensief en Saterdag oorgeplaas na ’n gewone saal. Ons het Saterdagmiddag vir haar doeke geneem. Sy het so klein gelyk in die groot hospitaalbed. Sy het ’n tia (oppasser) wat die hele tyd saam met haar daar is. Sy is ’n bietjie bleek maar gee haar glimlaggie vir ons. Hou asb aan om vir haar te bid dat sy nie enige infeksies nou op doen nie. Die operasie is in ’n privaat hospitaal uitgevoer en die hospitaal het self die koste daarvoor gedra, dit is ‘n gemeenskapsdiens wat hulle lewer aan behoeftige kinders.
Woensdagaand is Home Group by ons en ons moet ook leiding neem, Alta hanteer ’n aantal mekaar opdragte uit die Bybel met die groep en ons hanteer weer persoonlike gebedsversoeke van sendelinge soos die vorige keer wat ons dit hanteer het. Terugvoer is positief in verband met vorige versoeke. Hierdie keer neem dit meer as ’n uur inbeslag en almal neem vrymoedig deel, al het ons dit duidelik gemaak dat hulle nie hoef versoeke te gee nie. Ons kan nie verstaan hoekom daar nie meer aandag hieraan gegee word, op ander Home Group byeenkomste nie, want daar bestaan defnitief ’n behoefte daarvoor.
Woensdagaand het daar ’n paartjie van Australië en vriende van die sentrumleiers, hier aangekom. Hulle bied huwelikswerkswinkels al vir baie jare in Australië aan en lei ook ‘n “prayer healing centre” daar. Saterdag het hulle vir al die getroudes en almal wat belangstel ’n verkorte werkswinkel oor die huwelik aangebied en soos gewoonlik was hierdie een ook insiggewind.
Na die huweliks-storie is ons hospitaal toe wat naby die kus is en van daaraf het ons langs die see gaan sit en die middag net rustig vir die see sit en kyk.
Sondagaand was hier ‘n byeenkoms in ons huis vir die sendelinge en ’n span pastore van Brazilië en die Australiese paar. Die klomp kuier gesellig en eet lekker aan die kos wat die sendelinge gemaak het.. Die sendelinge moes sê wat hulle bereid is om te maak vir die ete. Hulle noem dit ’n ‘pot luck’. Iets soos ons bring-en-braai.

Die komende week is besig, met ‘n 3 dae kerkkonferensie en ’n groot aantal besoekers. Ons huisves ’n BBP (VIP) vir 2 nagte in die spaarkamer.

Bid asseblief dat almal veilig sal aankom en weer by hul bestemmings uitkom.