Saterdag 19 Desember 2015

November 2015

Die kinders skryf eksamen of toetse soos hulle dit noem, in een klas kry die kinders skielik goeie punte en na een dorm parent so ‘n bietjie uitvra kom dit uit dat die onderwyser die antwoorde op die bord geskryf het, wat nie teveel vir een van ons seuns gehelp het nie, hy het steeds 3 uit 20 gekry. Joe is ongelukkig, want hy het ‘n ooreenkoms met sy kinders dat wanneer hulle goeie punte kry vir ‘n vak gee hy hulle ‘n koeldrank, brood en ‘n ‘pajea’, en hy moes skielik baie koop. Interresant is dat alle toetse uit 20 tel tot by die Bybelskool met die verklaring dat niemand kan persentasie uitwerk nie, daarom kan toetse nie 30 of enige ander punt wees nie.

Die eerste dag  van vakansie en die kinders het reeds begin baklei. Ons probeer om ons laaste dag of twee nie te raas as hul stout is nie.

Een oggend is daar probleme, een van die sekuriteitshonde het glo ‘n kind gebyt en so erg dat ‘n stuk van sy lip afgeskeur is. Die waarheid wat later bepaal is, is dat die seun wat kos vir die honde aandra maar nie naby hulle mag kom nie, oor ‘n muur geklim het in ‘n lee hok in, om te sien wat die oppasser maak en het sodoende te naby aan die honde gekom en een het hom met sy pootnael deur die draad aan sy lip gehak. Die wond was nie naby so erg nie slegs een steek was nodig om die sny in die lip te heg.

Ons laaste week bestaan uit pak, huis skoonmaak en afskeidsfunsies. Woensdagaand se afskeid saam met die sendelinge is besonder want die dormseuns en ‘n groep van die meisies met wie Alta kontak gehad het by die naaldwerkkamer, is teenwoordig. Die seuns sing, een lees ‘n groeteboodskap en die meisies lewer ‘n dans item. Onder is die seuns se singitem wat Donderdagaand weer in die kerk herhaal is na daar vir ons gebid is. Vrydagmiddag het ons ‘n afskeidsbraai saam met die Onderhoud- en Vervoer-afdelings waar Petrus betrokke was, se personeel en 3 ure later braai ons weer saam met Joe vir oulaas op ‘n Vrydagaand. Joe, ‘n  Wes-Transvaalse boer, het elke Vrydagaand ‘n bring en braai vir die sendelinge wat daar is en die besoekers, so maak hy seker dat ons Suid Afrikaanse ‘braai’ nie as BBQ die wêreld ingestuur word.

Saterdagoggend net na 8 uur, groet ons die kinders, ons gee klappers (coconut) wat twee moet deel. Alles gaan goed tot een van die seuns begin huil, die nagevolg, al die vrouens en toesighouer is in trane. Later kom ons agter een van die seuns is nie daar nie, daar word orals gesoek maar niemand kry hom nie. Terugvoer die volgende dag is dat die een wat gehuil het die middag gelukkig op die speelgrond rond was, die verlore een was stil gewees. Die vermoede was dat hy nie kans gesien het om te groet nie.

En so kom ons werk by Iris Zimpeto ten einde.