Dinsdag 29 April 2014

22 April -27 April 2014

Maandag met die vergadering word ons gevra om vir Woensdag se ‘home group’ ons ervarings van wonderwerke aan te stuur. Hier volg ’n paar van die wonders wat vertel is:
Iemand vertel dat sy wakker geword  het met die gevoel sy moet ernstig bid vir ’n vriend se suster wat sy nog nooit ontmoet het nie, dit was kort voor Kersfees. Sy bid vir 4 ure wat nie gewoond vir haar is nie. Na die feestyd vertel die vriend vir haar dat sy suster  selfmoord wou pleeg en dat sy betyds gevind is en die tyd die gebeure het oor een gestem met die dag en tyd wat sy vir die vrou gebid het.
Nog een vertel van ’n uitslag wat sy vir ’n tyd gehad het en dat daar vir haar gebid is en dat sy later dieselfde dag gesien het dat die uitslag weg is.
’n Dokter, wat ‘n besoeker is, vertel van iemand wat geval het en sy hand ontwrig het, die kneukels het heeltemal op die verkeerde plek gesit en hy wou nie hê dat hulle vir hom moet bid nie, want dit was sy eie skuld omdat hy nie gekyk het wat hy doen nie. Hulle  neem toe sy hand om te kyk en begin toe bid en daar skuif die kneukels terug in posisie in en die ou het dit nie eens agter gekom nie. 
By ’n Bybelskool het ’n vroue student vertel dat sy nie met die kursus kan aangaan nie,  want die dokters het gesê dat haar bene in ‘n te slegte toestand is en dat sy dinge baie rustiger sal moet neem. Die instrukteur in die klas sê toe sy moet aanhou klas toe kom en dat sy sal genees want hulle gaan vir haar bid. Toe sy egter die sere aan die vrou se bene sien het sy gewonder hoekom sy  dit gesê het, want dit het glad nie goed gelyk nie. Hulle het gebid en sy het gesond geword en die kursus voltooi.
Nog iemand het vertel van ‘n meisie vir wie sy gebid het wat baie siek was en drie maande later het sy gehoor dat sy heeltemal genees is.
Sy het ook vir ’n kind gebid wat baie probleme gehad het, onder andere erge skoliose, asemhalings probleme en nog ander goed ook en toe vertel die dokters dat daar ook ’n probleem met haar oë is en dat hulle nie dink sy sal kan sien as sy ouer is nie. Sy het gevoel dat die kind soveel probleme alreeds het dat sy moedeloos en frustreerd gebid het en gevra het dat dit asseblief nie ook nog met die kind moet gebeur nie. Sy moes maandeliks terug hospitaal toe vir ondersoeke en na ’n aantal maande was hier ’n besoekende oogkundige-span. Sy vra hulle om assebief na die kind se toetse te kyk, die oë te ondersoek en vir haar te sê wat hulle mening daaroor is. Hulle het die toetse deurgegaan en hul eie toetse gedoen en naderhand gevra of daar nog ’n kind met dieselfde naam is, want hulle kry glad nie ’n verband tussen die kind wat hulle ondersoek het en die vorige toetse resultate nie. Haar oë was normaal en is tot vandag, ’n hele paar jaar later, nog steeds 100%.

Donderdagaand se diens was uitsonderlik, meer besonderhede is op facebook. www.facebook.com/petrusenalta
Die knappie wat die TV beskadig het lê Donderdagaand en slaap toe ons vir almal moet bid wat so hartseer was. Na ’n rukkie kom ons agter dat daar iemand by hom sit en baie ernstig vir hom bid, maar ons verstaan nie wat hy bid nie. Na hierdie gebed merk ons die laaste paar dae dat hy besonder kalm en rustig is, daar is ook ander wat al ’n tyd lank vir hom bid. Dit lyk of al die gebede werk, dit gaan beslis met hom beter. Ons kry hom eintlik jammer, daar is nou weer ’n TV in die camerata, maar sy straf was dat hy nie mag TV kyk vir ’n week nadat hulle ’n nuwe TV gekry het nie. Die ander laat hom dit ook nie vergeet nie. Vannaand is ons camarata toe en vind hom alleen op sy bed terwyl die ander kyk. Hy lyk maar bedremeld, maar kla glad nie. Moet sê hy vat sy straf soos ’n man, nie soos van die ander wat altyd ander beskuldig en alles doen om uit die straf te kom nie.


Tydens Sondag se diens handel die preek oor eenheid en vertroue in God en as jou verhouding met jou pa nie goed was nie is dit moeilik om God te vertrou. Almal kry toe geleentheid om vorentoe te gaan sodat daar vir hulle gebid kan word, met 3 pa’s wat hulle pa’s verteenwoordig  en toe word daar ook 3 ma’s gevra om dieselfde te doen. Daar is toe net Alta wat ’n ma is,  om die sendlinge te verteenwoordig.

Dinsdag 22 April 2014

14 April – 22 April 2014

Ons pak die Portugees die week aan met een van die seuns in die camerata om ons te help met sinskonstruksie en uitspraak. Na ’n besige dag voel dit of  die inligting te veel vir ons breine is. Ons gaan dit 3 maal ’n week doen.
Alta help uit in die ‘nursery’, want die mense wat daar toesig hou, moet Suid-Afrika toe om aansoek te doen vir die verlenging van hul visa. Daar is 3 nuwe kinders; tweeling dogtertjies van ’n jaar, baie ondervoed en hulle kan skaars sit, lyk soos klein 6maande baba gewoonlik lyk en nog ’n dogtertjie van 5 maande wat soos ‘n 2maande oue baba lyk, net langer. Sy lyk vir my oud, haar gesigies is verrimpel. Dit maak mens sommer hartseer om sulke kinders te sien, daar is geen lig in die tweeling se ogies nie, nie eers as daar met hulle gespeel word nie.
Woensdag ongeveer 13:00 kry ons ’n oproep, daar is ’n nuwe seun, hulle het gedink om hom by camerata 5 te plaas, maar hy is te groot en hul dink dit sal beter wees as hy by ons geplaas word. Hy en sy boetie(baby house) is deur ’n ‘ouma’ van die gemeenskap versorg terwyl die ma in die hospitaal is. Die kerk het met die familie gepraat, maar die sien nie kans vir nog kinders nie en het toestemming gegee dat hulle Iris kontak om die kinders op te neem. Dis vinnig klere bymekaar sit vir hom, want niks word by die families geneem nie.
Die gas van Pemba wat agter moes bly, geniet die kinders en help met aktiwiteite, hy is nogal goed met hulle en hulle geniet die man wat met hulle speel. Die ou van Suid-Afrika sukkel nog met die bakkie. Die plan is dat hy Woensdag sal terugkom en dan vlieg hul Donderdag op Pemba toe en kom so oor 2 of 3 weke terug om die kar en die ander goed wat gestoor word, te kom haal.
Ons ry Donderdag teen 11:00, vir die maandelikse uit en in, grens toe en Marloth toe vir die naweek. Toe ons die e-posse oopmaak sien ons dat nog ’n seun volgende week huis toe gaan. Die 2 boeties is beide in die sentrum en die oudste een sou huistoe gaan, maar die jonger een sou eers bly en later in die jaar gaan. Die ma het blykbaar versoek dat hy ook nou kan gaan, ons is bly daaroor, want hy sou dit baie moeilik aanvaar het om te moes bly.

Gededsversoeke:
Bid asseblief vir die kinders wat terug geplaas is, vir aanpassing en inskakeling, sodat hulle daar ook gelukkig sal wees en sal onthou wat hul hier van Jesus geleer het en altyd aan Hom sal vashou en glo.
Vir samewerking van die personeel met die sendelinge.
Vir die camerata met al die uitplasings en die nuwe kind en sy boetie.
Vir die wat siek is en beskerming teen malaria en allerhande ander siektes.


Dinsdag 15 April 2014

7 April – 13 April 2014

Maandag is ’n bankvakansiedag hier, Vroue Dag.  Dis klere uitsorteer en reg kry vir die kinders wat terug geplaas gaan word by familie, een van die klein seuntjies (nuutste groep) en een van die groot seuns. Die klein seuntjie gaan Woensdag na sy suster toe wat nou getroud is en ’n baba het. En die grooter een gaan Donderdag na sy ouma toe. Die kinders word Maandag laat middag ingelig dat hulle ‘huis toe’ gaan. Dis vir hulle ’n skok, maar as dit vroër gedoen word loop hulle weg en is daar allerhande probleme.
Woensdagoggend gaan ek om die kleintjie se klere te pak, van die ander kinders het vir hom van hulle goed gegee, T-hemde, truie, speelgoed ens. Van die pas nie eers vir hom nie en moet ek uithaal en agter laat, aangesien hy genoeg goed het en ons nie alles gepak kan kry nie. Die kleintjie is hartseer toe hy moet gaan en dit maak dit vir ons moeilik en moet ons hard sluk aan die trane. En Donderdag doen ons dit weer, dis bietjie makliker, tieners wys ook nie soveel emosie nie. Ongeveer 4 ure later kry ons ’n boodskap dat nog een van die groot seun  die volgende dag uitgeplaas word na ’n skema waar kinders gaan wat nie familie het nie. Dit is onverwags en ’n geskarel om alles reg te kry. Hy is redelik omgekrap, maar lyk later tog of hy meer rustig raak en dit begin verwerk. Die hele camerata is geskud deur die terugplasings en wil weet wie nog gaan.
Donderdag raak die basis bedrywig met mense wat vir die konferensie kom. Dit reën ook en hulle hang goed teen die mure op om droog te word wanneer die son uitkom. Almal, veral die kinders, is ook opgewonde oor Roland en Heidi wat kom.
Vrydagoggend is die gradueeringsplegtigheid van die Bybelskool en die middag begin die konferensie.
Vrydagaand kry ons onverwags gaste, dis 2 mans wat oppad is Pemba toe, maar die voertuig gee probleme en hulle kom slaap by ons in die huis. Die een is ‘n Suid-Afrikaner en die ander een ’n Kanadees. Hulle probeer om vas te stel wat die probleem is en kry ’n ou wat na  die voertuig kyk, maar geen sukses nie en hulle pak alles af en die ou van Suid-Afrika ry Sondag terug teen ’n slakkepas. Die Kanadees se paspoort/visa laat nie toe dat hy weer uitgaan sonder om sy 6 maande visa in die gedrang te bring nie, dus moet hy bly.
Saterdagoggend is redelik bedrywig, die kinders kry tydens die konferensie hulle brood, maar nie tee nie. Hulle is almal by die venster vir margarien en grondboontjiebotter. Die educator bel en vra ons moet kom, ‘n seun het die TV gebreek. Die seun is altyd in die moeilikheid en mens moet rustig met hom werk om die storie uit hom te kry. Blykbaar was dit ’n ongeluk, hy het albasters in die camerata gegooi en een het die skerm getref en nou werk die TV nie meer nie. Almal is vies vir hom, want nou kan hulle nie DVD’s kyk nie en almal deel straf uit, party wil hom sommer na ’n ander camerata toe stuur.
Saterdagaand ontmoet al die sendelinge persoonlik vir Rolland en Heidi in die gebedskamer waar ons ook vir hulle bid.
Sondag eindig die konferensie en dit raak weer rustig die middag.

Gededsversoeke:
Bid asseblief vir die kinders wat terug geplaas is, vir aanpassing en inskakeling, sodat hulle daar ook gelukkig sal wees en sal onthou wat hul hier van Jesus geleer het en altyd aan Hom sal vashou en glo.
Vir samewerking van die personeel met die sendelinge.
Vir die siekes en beskerming teen malaria en allerhande ander siektes.
Vir die seun wat HIV, kanker en TB het, dit lyk asof daar ’n infeksie is wat hom olik maak.
Bid asseblief ook vir die seun.


Vra gerus as daar van julle is wat vir ‘n kind wil bid, hulle het selde iemand wat soos ’n ouer vir hulle bid. Inligting sal gedeel word oor ’n spesifieke kind se onstandighede as jul bereid is om vir hulle te bid.





Dinsdag 08 April 2014

31 Maart – 6 April 2014

Die week is bedrywig met al die normale goed, kinders aandag gee, klere sorteer en ons begin reg maak vir kinderdag. Ons het twee keer se gaan Suid Afrika toe as daar dinge aangekoop moet word. Dus is ons besig om te kyk wat beskikbaar is en wat gekoop moet word.
Donderdag word ons ingelig dat twee seuns in ons dorm, ’n groote en ’n kleintjie , teruggeplaas gaan word na familie. 
Saterdag is ons huweliksherdenking, ons ploeter stad toe deur modderige ompaaie wat stiller is, die ander paaie het stil gestaan, geen beweging nie, want dit is die einde van die maand. Ons het baie reën gehad vandaar die modderpaaie. Ons gaan eet by die restaurant waar ons al voorheen geëet het en waar jy hoog bo die see oor die see uitkyk. Later die middag gaan loop ons in Spar rond en koop ’n paar goed. Die teerpad terug huis toe is steeds stadig weens verkeer, al is dit al 4uur. Terug was Petrus eers die Kia. Saterdagaand braai ons vleis saam met die 2 SA meisies wat nou hier by ons is. Hulle het maar gesukkel met die aanpas maar dit gaan beter.
Sondag is ons weer Motala se kerk toe en waardeer die goeie preek.
So 2 weke gelede verneem ons, insluitende die bestuurders, dat hier ’n konferensie is. In Afrika tradisie is daar geen idee hoeveel mense die konferensie gaan bywoon nie, 100 of 1000 of meer. Daar moet slaapplek en kos gegee word, nogal moeilik as jy nie weet vir hoeveel mense nie. Die groot nuus is dat Rolland en Heidi ook hier gaan wees.

Gebedsversoeke:
Bid asseblief vir die konferensie, dat alles goed sal verloop.
Vir die kinders wat na hul families toe moet gaan, dat die aanpassing goed sal gaan en dat hulle gelukkig en goed versorg sal word.
Vir samewerking van die personeel met die sendelinge.
Vir die kinders, siekes en gesondes en vir beskerming teen veral malaria, voorkoms het baie verhoog.

Vir ons vir geduld met die kinders en die taal-aanleerdery