Woensdag 30 Oktober 2013

14 - 20 Oktober 2013

Maandag met die kom terug stop ons by Celia se kerk in Kumbane om die pompinstalasie af te handel, maar die mense is nie daar nie en ons ry maar weer.
Dinsdagoggend gaan ons weer Kumbane toe en neem die Australiese werktuigkundige se vrou en een dogter saam. Mama Maria de Freritas wys ons hulle tuine, wat hul met reënwater en die boorgat se water nat lei, terwyl Petrus die werk afhandel. Hulle plant so 3 mieliepitte in ’n holte in die sand en bedek dit dan met gras om dit teen die wind en son te beskerm. Ons vra ook uit oor  die plante en tussen ons gebrekkige Portugees en haar soortgelyke Engels verstaan ons mekaar, ons dink. Een  plant mandioca of in Engels is dit cassava, dis ’n struikagtige plant wat ongeveer ’n jaar neem om die lang wortels (of wortel verdikkings) onder die grond te vorm wat dan uitgehaal word en gekook word. Dit het min of meer die  tekstuur van patatas, maar die smaak laat jou tog ook aan aartappels dink. Hulle kook dit met uie, aartappels en tamaties, en as hulle vleis het, kan dit ook by gevoeg word. Die jong blare word ook gekook en die lote van die plant word gebruik om vir die volgende jaar se oes in te sit. Daar groei ook so ’n rankplant wat ons gewoonlik as onkruid beskou en uittrek en sy vertel dat hulle dit ook kook. Alta pluk ’n blaartjie en proe daaraan, dit het ’n soeterige smaak en dit behoort goed af te gaan in ’n slaai.
Kenssane skuif  Woensdag oor na die Baby House, dis ‘n groot mylpaal nadat sy vir amper 2 jaar in die nursary was, sy is volgende maand 2 jaar oud. Dis die kleintjie wat Down Sindroom is en wat vroeër vanjaar die hart operasie gehad het. Ons is so dankbaar vir haar wonderbaarlike vordering sedert die operasie, sy praat en brabbel baie meer, aap alles na en wil net loop, al is haar beentjies nog nie heeltemal instaat om haar gewig te dra nie.
Donderdag gaan soek ons waaiers vir die camerata, daar het ’n skenking daarvoor ingekom, en ons doen ’n paar aankope. Terwyl ons in die kerk is sien ons blitse en hoor donderweer. Ons kry ’n baie welkome bui reën, die stof is weg en om oor die sand te loop, is lekker en dis ook nie so warm nie. Vrydagaand is daar weer donderweer en nog reën val deur die nag.
Saterdag is ’n boek en sop dag met drisselweer die hele dag. En nie een van ons twee kom by die boek deel uit nie. Ons word genooi vir  middagete van ’n tradisionele Mosambiekse gereg, kan nie die naam onthou nie. Dit was nie te min baie lekker, dit was pampoenblare met kokosneutmelk en grondboontjies op rys bedien.

Sondag is ons weer so bevooreg om vir middagete uitgenooi te word en die aand het ons die gesin van Australië genooi om by ons te eet. Hulle is ’n groot seën vir Iris Zimpeto, hy leer die jonges en die Mosambiekse werktuikundig meer oor voertuie en die res van die gesin sit handby in verskillende afdelings.

Maandag 28 Oktober 2013

21 - 27 Oktober 2013

Dinsdag was Alta se verjaardag, wat stil verby gegaan het, maar die kinders het vir haar gesing en dit was dalk harder as die musiek in die kerk op Sondae. Die Australiese besoekers het die aand kom inloer.
Woensdagaand is Home Group weer by ons en Alta begin die Crown geldkursus vir die sendelinge wat goed ontvang word.
Vrydagoggend bid ons weer vir die kinders en daar is heelwat van die kinders uit die gemeenskap. Daar word in die besonder gebid vir kinders wat in Uganda uit hul huise ontvoer word gedurende die nagte en dan gebruik word as rebelsoldate.
Vrydag sluit die skool vir 3 maande en ons gaan baie gebed benodig in die tyd vir geduld en uithou vermoë.
Die aand teen 18:30 ontvang ons ’n skenking van 25 ton gekonfiskeerde gebottelde water van die Mosambiek se doeane. Ons paaie is egter nie goedgenoeg vir so ’n groot vragmotor nie en die val by die eerste draai vas. Almal val toe maar in om die vrag af te laai, om die vragmotor ligter te kry en dan moonlik kan uitkom, maar sonder enige sukses. Daar word hard gewerk tot 23:00. Die uiteinde was dat daar tot die volgende dag gewag moes word om ’n voertuig te kry om die vragmotor uit te trek. Ons het ongelukkig Saterdagoggend se operasie gemis, want ons moes gaste stad toe neem. Die probleem is egter dat ons 25 000 liter verniet gekry het, maar ons moet van dit ontslae raak en opruim en die sentrum in orde kry,  voor ’n besoek van Maputo se Burgermeester op Woensdag. Dis ’n reuse taak. Kyk na die foto’s onder.
Sondag is ons na die Afrikaanse Kerk toe en die aand is die vrouens gepamperlang en voor gebid deur ’n groep vroue vanaf Engeland en die mans het hulleself vermaak met ’n braaivleis.

Daar word baie gepraat oor die vredesooreenkoms tussen Frelimo en Renamo wat verbreek is, die Mosambiekers is baie bekommerd daaroor, veral die meegaande geweld. Dit gebeur alles so 800km noord van ons en met vertroue in God is ons nie bekommerd dat daar weer ’n volskaalse burgeroorlog sal ontstaan nie. Die munisipale verkiesings is einde November en ons verwag daar gaan dalk onrustighede sal wees soos dit maar gaan in alle Afrika lande wanneer daar verkiesings is. 








Donderdag 17 Oktober 2013

7 - 13 Oktober 2013

Hier is ’n motorwerktuigkundige van Australia en hy begin Maandag met ‘n kursus in motor herstel. Daar is ’n groot belangstelling vanaf die seuns. Maandagmiddag probleer hulle ’n bus se ratkas uithaal. Daar is nie ’n put waaroor die voertuig getrek kan word om dit te doen nie en alles word op die sand gedoen terwyl jy onder die bus lê. Na ’n groot gesukkel besluit hy om ’n stut te bou waarop die ratkas rus terwyl dit uitgetrek word uit die engin, waarna dit vinniger en makliker gaan.  
Daar is elke Dinsdag en Vrydag 07:00 ’n gebedsessie in die Prayer room. Dinsdae is dit vir die sentrum en Vrydae vir die kinders. Die deure staan gewoonlik groot oop, sodat enigeen kan inkom en saam bid. Dit bly elke keer ’n ervaaring om te sien hoe die kinders aankom en die verwagting op hulle gesiggies. Party kom uit nuuskierigheid, ander omdat hul bietjie aandag wil hê (’n bietjie vasgehou te word) of om op die stoele te kom sit en die ander om saam te bid. By Vrydag se sessie is die Prayer room vol met al die kinders, ook kinders uit die gemeenskap wat hier skool gaan.
Dinsdagmiddag bring die sentrum leier ’n werker wat aangestel is i.v.m. higiëne en gesondheid oor na die dorm. Ons is nogal bly, die opvoeders is nie altyd streng genoeg nie, deels omdat die kinders nie luister en doen wat hul sê nie en hul het nie regtig ’n manier om dit af te dwing nie. Sy haal goed uit die groot seuns se klerehouers en onder hul matrasse wat nie herhaal behoort te word nie. Daar is nie een wat nie in die moeillikheid is oor iets nie en die kinders moes die volgende oggend klere en beddegoed was. Hulle was nie beïndruk nie. Alta was die hele week besig met hierdie bedrywighede in die camerada.
Woensdagaand se Home Group handel oor provekasie en aanstoot gee(neem), ( provoke & offend). Dis heel interessant en mens besef nie altyd hoe maklik jy aanstoot neem i.v.m. iets wat nie regtig saak maak nie. Vella wat by ons gebly het terwyl sy siek was en ook nog nie kon intrek in die huis in die gemeenskap na die inbraak nie, sê dat Petrus haar ‘provoke but she choose not to be offended’ en dit raak ’n hele gespottery na die praatjie.

Dit is Vrydag vroeg al warm en ons vertrek na SA met die wete van ’n weervoorspelling wat sê dat dit Saterdag bloedig warm sal wees en dat dit selfs meer sal wees wat dit in Maputo gaan wees, en dit was baie erg! Op die bloedige warm Saterdag vier ons ook Catherine se verjaarsdag saam met haar ouers wat vir die naweek vanaf Pretoria gekom het.

Sondag 06 Oktober 2013

30 September – 6 Oktober 2013

Maandag nog ’n vroeë oggend met die krag wat nog steeds nie reggemaak is nie. Die kragopwekker hou nie by nie en kort ’n diens. Die kragopwekker is Dinsdag gediens, die water het opgeraak oor die generator wat af is en die elektriese toevoer is Dinsdagnag herstel.
Dinsdagoggend is Petrus saam met Celia (die Brasilaanse pastoortjie) na haar gemeente toe op Kumbane, om te gaan help om ’n dompelpomp te installeer. Dit is ’n gemeenskap geleë naby die hoofpad tussen Maputo en SA. Elkeen daar het maar meestal ‘n bestaansboerdery op ’n stukkie grond. Die gebied het ’n probleem met drinkwater want al die boorgate is brak of sout(selfs tot 60% meer as die see). Celia het ’n kerk daar geplant so ’n paar jaar gelede na sy op die gebied afgekom het en probeer om die omstandighede daar te verbeter. Sy het ’n reënwater-opvangtenk gebou waarvan hulle die water aan die gemeenskap verkoop teen ’n baie lae prys sodat almal ten minste drinkbare water kan bekom. Aan die begin van die jaar het sy fondse begin bymekaar maak om ’n boorgat te laat sink. Daar is baie daaroor gebid vir onder meer dat dit nie brakwater moet wees nie. So is die boorgat ’n maand gelede gesink en die eerste tekens was dat dit weer brakwater is en min water, maar die boorman, ’n erg Afrikaanse boere omie volgens Alta wat hom ontmoet het, het gesê hulle moet ’n bietjie wag en dan sal hy die gat weer toets. So ’n dag of twee later het hy die water weer getoets en die water het meer as 3kl/uur gelewer en was nie meer brak nie. Daar was groot blydskap hieroor, die Here het hulle gebede verhoor, een boorgat se water is reg vir menslike gebruik terwyl al die ander boorgate onbruikbaar is. Na die pomp ge-installeer is en die middag aangesit is om te toets, het die woord vinnig versprei en al wat leef en beef het opgedaag met houers om water te kry. Dit was ’n gesig om te sien, onder is foto’s. Van afhandeling van die werk was daar nie sprake nie, want die pomp kon nie afgeskakel word nie en het Petrus-hulle maar later huis toe gegaan. Dit was ook die eerstekeer dat Petrus in die gemeenskap ‘n ete gekry het. Dit was hoendervleis, rys en iets soos bone en aartappelgereg. Almal het vir ons wat aan die pomp gewerk het gewag om eerste te eet. Daar is begin met ’n skottel en ’n beker water wat vir ons gehou is om ons hande te was. Daarna is die kos voorgesit en kon ons skep waarna die vrouens en eers daarna, die kinders kon eet.
Hulle is Woensdag terug om nog dinge af te handel maar probleme is ondervind met die pomp se beheerkontrole en die generator wat eers weer terug is na die leweransiers en Vrydag is daar weer aan die pomp gewerk, maar dit werk nou en die water loop in die tenk in.
Een van ons kollegas, die vroutjie wat in die gemeenskap gaan bly, het baie siek geword en het Maandag by ons huis beland, met uitnodiging, om na omgesien te word tot sy beter is en in haar huis kan intrek. Woensdag is Alta met die Kia na haar nuwe huis toe vir klere en sy het 4x4 op die Kia gevind en nie vasgesit in die sand nie. Teen Vrydag is sy gesond genoeg om die nuwe huis te betrek, maar voor dit kry ons ’n boodskap dat daar by haar huis ingebreek is en Alta en sy is soontoe om te gaan kyk. Toegang deur die deur was te moeilik en hulle het ’n venster totaal uit die muur uitgebreek. Al wat vermis word is ’n gasbottel maar alles is omgekeer en waardevolle artikels en geld is gelos. Die gevolg was dat al die goed weer verskuif moes word na ’n veilige plek, gelukkig naby, tot die huis weer herstel is. Gelukkig was daar Iris-mense en besoekers beskikbaar om te help en Alta het nie eenkeer met die Kia vasgesit nie.
Gedurende die week het ons ook nog 2 verjaarsdae gehad en die 1st een het vir hom en sy 3 vriende hamburgers bestel. Alta het alles gaar gemaak en gesny wat moes en vir hulle reggesit om self hul hamburgers te maak. Dit was nogal snaaks, hulle het nie mooi geweet hoe om dit te doen nie en ons het hulle gelos om dit self uit te dink, maar alles was opgeëet en dit net na hulle reeds aandete gehad het. Die ander verjaarsdag was Vrydag, koek gebak en partytjie ook gehou voor die trek.
Vrydag is daar ook strikke vir haarboggies klaar gemaak en die aand  het ons gaan help om die kerk te versier en stoele reg te kry vir die troue die Saterdagoggend 10uur. Was goed moeg na ’n besige en baie warm dag.
Saterdagoggend is dit vroeg al duidelik dat dit ’n uiters warm dag gaan wees. Almal is opgewonde oor die troue, selfs die kinders het spesiale kos en koeldranke gekry en hul tafels is ook met tafeldoeke gedek. Die troue begin 10uur en hou aan tot 1uur. Terwyl hulle foto’s neem moes die tafels opgeslaan, reg gesit en gedek word vir die 250 genooide gaste. Dit was ’n geskarel met omtrent 50 mense wat gehelp het, en baie dinge wat oor gedoen moes word want niemand was regtig in beheer nie, maar op die ou end het dit darem mooi gelyk. Ons is 4 uur weg van die onthaal af, daar was nog mense wat geëet het, maar Alta was aandiens by die babas en moes gaan kyk of alles darem daar nog goed gaan, tot die babas was by ’n deel van die troue. Ons is so 5 uur terug om te gaan help opruim en goed weer gebêre te kry. Daarna is ons huis toe om te gaan rus.

Sondagoggend is ook weer baie warm veral in die kerk. Daarna is ons huistoe en het die res van die dag rustig deurgebring. 

Die kerk op Kumbane, nog nie klaar gebou nie maar in volle gebruik

Die stoep met tafel en kos vir ons, die huis is vir die pastore en oppasser

Eerste water begin vloei


Die tou vir water wat gou gou gevorm het met mense uit die omgewing

Die troue

Die bruid

Die kinders se tafels

Die gaste se tafels

Die troukoek