Vrydag 27 Desember 2013

16 - 22 Desember 2013

Maandag gaan  hulle verdere werk aan die badkamer soos met pleisterwerk, verskuif die venster en doen van die loodgieterwerk. Dit hou ons besig, ons moet kort- kort daar wees om seker te maak alles word reg gedoen.
Woensdag vroegaand is ons met die bus weg om ‘Home Group’ by oud sendelinge van Iris, wat nou hul eie ding in Matola doen, te gaan hou. Die besoek is ’n jaarlikse instelling om kersliedere te sing en ons word erg bederf met heerlike eetgoed. Ons geniet die aand en besef die verskille tussen nasionaliteite toe ons die liedjies van die verskillende lande sing, waarvan baie vir ons vreemd is.
Ons word gevra om vir die Mosambiekse leiers by die sentrum ’n kersete in die vorm van ’n braai aan te bied Vrydagmiddag. Dus, Donderdag word hoofsaaklik bestee aan die aankope en voorbereiding vir die ete. Saam met alles moes ons die tuin in ’n aanvaarbare toestand kry, want dit is waar die ete voorgesit word. Dit het beteken ons moes die kinders uit die mafuraboom (rooi essenhoutboom) hou, want hulle breek die takke om die vrugte in die hande te kry en met die afspring bly daar dan ook nie veel van die gras oor nie. Vrydag was die braai en alles daarmee saam en die middag vat ons af na alles afgehandel is.
Na die tyd gee ons vir die drie wat gehelp het om die blare van die twee bome op te tel, die tafels en stoele skoon te kry en reg te sit, hulle vleis wat ons vir hulle eenkant gehou het. Dis nogal ’n storie, hulle kon nie wag vir die vleis nie.  Die kombuis het van die kos voorberei en sou dit wat oorgebly het, kom haal.
Teen 16:15 is hulle nog nie hier nie en ons laat die ‘educator’ weet om die dorm te bring om dit te kom eet. Hulle eet elkeen ten minste vyf groot opskeplepels rys.
Chaterine het so ’n maand gelede gevra of sy haar afskeid ook in die tuin kan hou. Sy wil ’n koek en tee piekniek hê. Ons beplan dit en sy sê dat sy van verrassings hou en dat sy nooit dit kry nie. Dus beplan Alta toe vir haar ’n paar dinge om as verrassing te dien. Ons kry ’n boekie en vra almal om vir haar ’n boodskap na ons toe te stuur en stel die boekie saam met allerhande dinge wat by haar herinneringe sal oproep. Sy is baie opgewonde toe sy die boekie kry.
Ons moet Peet gaan haal om by ons te kuier vir die Kerstyd en het beplan om Sondagoggend te ty, maar hoor dis baie besig en besluit toe om dadelik te ry en eerder in die aand te wag as  in die hitte van die dag. Dit is toe heel rustig toe ons by die grens kom en was ons vinnig deur.

Sondag ontstaan daar ‘n brand in ‘n ‘container’ waarin Bybels, skoene(’n skenking van so ’n paar weke terug) en matrasse gebêre word. Die ‘container’ is deel van die grens en die gemeenskap het vuilis teen die ‘container’ aan die brand gesteek, wat die goed binne laat begin smeul het. Die brandweer was driemaal hier om die brand te blus wat telkens weer op gevlam het. En so is daar toe ook vir hulle gebid  en Bybels aan hulle gegee. So word die ramp toe ’n geleentheid om die Woord uit te dra.
Die week wat kom is baie bedrywig en die kleiner seuntjies kom oor na camarata 4 toe. Bid asseblief dat alles glad verloop en dat hulle goed sal aanpas en die groottes hulle sal aanvaar en nie boelie nie.





Maandag 16 Desember 2013

9 - 15 Desember 2013

’n Familielid van een van die sendelinge hier, het foto’s gesien van die vorige Kersetes en het besluit om fondse in te samel om met hierdie Kersete te help. Wat dit so uniek maak, is dat hierdie familielid ’n seun van so 10 jaar is wat kanker het en as gevolg daarvan alreeds sy regterbeen verloor het. Hy het besluit om aan ’n een kilometer padwedloop deel te neem met krukke en die hoop dat hy sal klaar maak en so 300 dollar daarmee in te samel. Hy het klaar gemaak, was nie die laaste oor die lyn nie, en 2000 dollar ingesamel vir die ete.

Maandag trek ons kinders oor na die Bybelskool se dorm, sodat hulle dorm se badkamer oorgedoen kan word. Die kinders vind dit baie avontuurlik en iets om te doen en nuwe terein om te speel. Die volgende oggend is daar begin met afbreek en uitslaan van mure, nuwe deuropeninge ens. En teen 12:00 was hulle klaar daarmee en het hulle al begin met die bou van die mure waar dit moet kom. Dit lyk of die terug trek nog voor Kersfees sal wees.

Daar is tans net SA besoekers hier en hulle is in verskillende groepe hier, dis besonders. Ons nooi hulle uit vir ’n bring-en-braai by ons Saterdagaand. Hulle is so 8 en 5 is pas gegraduere dokters of besig met mediese studies. Dit het die gevolg gehad dat daar redelik medies gesels is en party van die nie-mediese groep het met tye erg gebloos oor dit wat bespreek is. Een wat nou net klaar gemaak het, het onomwonde verklaar, dat as daar na die menslike liggaam gekyk word en die ingewikkelde werking van elke deeltjie van die liggaam, moet daar ’n God wees wat die mens geskep het en kon nie deur ’n ‘big bang’ tot stand gekom het nie. Hy het verder sy stelling verdedig, dat wetenskaplikes kon selle soortgelyk aan menslike selle skep, maar kon nie dit lewe gee nie.
Wel, ons het tot laat lekker gekuier (dis nou vir ons twee). Hulle was baie dankbaar en het ook vir ons gebid voor hulle terug is na hulle kamers.

Hier oor die Kerstyd gaan baie kinders na hulle families toe of na vriende wat hulle uitnooi, wat nogal ’n hoogtepunt vir hulle is. Ons het ’n lys gekry van wie mag uitgaan, na wie toe en wie nie. Die wie nie mag uit gaan nie, is die wie geen familie of vriende het nie, voorheen mishandel is of mediese behandeling ontvang. So het ons seun wat kanker het en behandeling kry, se ouma skielik na 2 jaar opgedaag en wou hom vir ’n tydlank saamneem. Ons kon hom egter nie laat gaan nie, weens sy behandeling en om te voorkomend dat hy infeksies kan optel by ander, sy ouma is reeds ook siek. Hoewel die leiers aan hom verduidelik het wat die situasie is, is hy nie vir hulle kwaad nie, maar vir Alta en die verpleegster. Sy hart was baie seer dat hy nie kon gaan nie, hy het baie daarna uitgesien en ons was saam met hom hartseer.

Bid asseblief vir die glad verloop van die reëlings en die inskakeling en aanpassing van die jonger seuntjies wat net na Kersfees deel word van Camerata 4.

Bid asseblief ook vir die kinders se hartseer en gemis aan ’n familie wat omgee en wys dat hul omgee.


Die kuier Saterdagaand



Die badkamer
Wanneer daar nie 'n trapleer naby is nie.

Dinsdag 10 Desember 2013

2 - 8 Desember 2013

Maandagmiddag heet ons die nuwe missionaries welkom wat Donderdagaand gekom het. Dis ’n gesin en die dogter van die base wat vir ’n jaar gekom het. Sy is ’n verpleegster en hulle het 2 dogtertjies.
Dis ’n koel reënirige week, veral in die nagte reën dit en dan slaap mens baie lekker.
Almal is bedrywig met die regmaak van die Kersgeskenke vir die kinders en ander voorbereidings daar rondom.
Woensdagaand se Home Group is ‘n ‘worship’-aand met mense wat vantevore hier was, en waarvan ons baie hoor, maar nog nie ontmoet het nie. Hulle bly nog in Mosambiek en doen opleiding met mense in verskillende rigtings en die man is  ook die bestuurder van ‘n ‘cashew nut’ fabriek hier.
Donderdag het ons vergadering, die camarata se badkamer moet opgegradeer word en die koste moet bereken word en die kontrakteurs kom kyk wat alles gedoen moet word sodat hulle kwotasies kan gee. Ons ry later deur Marloth toe en kom Maandag terug.
Ons het behoefte vir ’n paar gebede:
·        Ons kry klein seuntjies 27 Desember, vanaf ’n ander camarata, bid asseblief dat hulle opgewonde oor die verskuiwing sal wees en dat dit glad sal verloop en die groot seuns hulle oor die kleiner seuns sal ontferm.
·        Dat die badkamer veranderinge sal deurgaan soos beplan, dis regtig baie nodig. Dat die kwotasies billik sal wees en dat dit afgehandel sal wees voordat die klein seuntjies hul intrek moet neem. (Die ou teëls val oral af en die toilette het vervanging nodig. Daarby wil die Sosiale dienste hê dat die ‘educator en tia (skoonmaker) hul eie badkamer moet hê.)
·        Bid asb ook dat ons geduld sal hê met die kinders (die vakansie is nog 7 weke lank voordat hulle skole weer begin)

·        Dat ons Portugees sal verbeter sodat hulle ons en ons hulle beter sal verstaan.

Sondag 01 Desember 2013

25 November – 1 Desember 2013

Die kinders is nou al ’n maand met vakansie en hou hul besig met karretjies maak uit bottelproppies, draad en riet (keniso), speel hopscotch as die sand nat is en albasters. Verder eet hulle groen mangos en die Mafura-vruggies (Rooi Essenhout) begin ryp word en nou soek hulle gedurig suiker om die te eet. Saam met dit val een van die kinders uit die Mafura boom in ons tuin. Die beskerm-engeltjies werk hard en hy kom niks oor nie.
Om hulle besig te hou word daar uitstappies gereël so 1 keer ‘n week en vasvrae gehou en toe wen Camarata 4 die Bybelvasvra Woensdagmiddag. Ons is heel trots op hulle, gewoonlik is hulle net in die moeilikheid.
Home Group is Woensdagaand by ons, die sendelinge is uitgedun, maar ons het die afgelopetyd ’n nuwe inwoner in die huis wat elke aand huis toe kom, ’n rot. Wat toe ook Home Group kom besoek. Hy is baie gesondheidsbewus, deur ons mango’s, papaja en tamaties te eet. Woensdagaand met afsluiting lees Petrus ’n gebed voor en waar die gebed sê “We are feeble in heart, but with You there are help” gil Catherine, wie se oë nie toe was nie, toe die rot verby haar hardloop die kamer in. Na almal weer tot ruste kom gaan Petrus voort met die gebed wat met die volgende woorde aangaan “we are restless, but with You there is peace”, noodeloos om te sê almal het weer geskater. Dit het ’n rukkie gevat voor ons die gebed kon afhandel.  
Donderdag begin dit reën en dis nogal koelerig. Hier is ’n besoeker wat Vrydag terug is huistoe in Switserland en behalwe dat sy reeds koud kry met die koeler weer hier, sy sê die temperatuur verskil is tans 40° tussen hier en Switserland, sy gaan ’n bietjie sukkel om weer in Switserland aan te pas.
Sondag vra ’n Mosambiekse vrou om voor in die kerk te sing uit dankbaarheid, want haar man sou op die vliegtuig, wat Vrydag in Namibie geval het, gewees het, maar daar het iets voorgeval en hy het toe nie gevlieg nie.

Alta het toe toegegee om die toesig oor die naaldwerk-afdeling oor te neem en staan nou die babatjies en biblioteek af.