Dinsdag 29 Julie 2014

21 - 27 Julie 2014

Dinsdag het ons ’n vergadering met die base en die administrateur van die sentrum oor die dokumente wat ons nodig het vir verblyf permitte. Die proses is feitlik tot stil stand gebring deur nuwe wetgewing en ’n kantoor wat nie voorbereid is op al die ekstra werk nie. Daar is talle mense wat deur die proses geraak word en besoekers word terug gestuur of weggewys by lughawens op ’n daaglikse basis. Die sendelinge kry ook al minder verlenging vir visas.
Een van die seuns het vir die besoekers ’n ander naam as sy eie gegee, wat toe op hom boemerang. Hulle, ’n man en vrou van Amerika, koop toe ’n bal vir hulle en soek die kind en niemand weet van so ’n kind nie. Hulle kom saam camarata toe en help met ’n middag program en sy sê vir my dis dié kind en sê toe ook dat hy vir die kinders gesê het dat hulle almal in die camarata gaan neem vir pizza. Wel ons kan dit nie toe laat nie en hy word dus gestraf met geen verversings vir ’n week nie en hy moes almal om verskoning vra. Hy loop heel week met ’n suur gesig rond omdat hy nie snoepgoed kry nie.
Die groot seuns kom elke aand vir hulle snoepgoed. Hulle kom eet ’n brood en ’n half  met margarien, grondbonebotter en soek dan ook iets om te drink en dit alles na hulle aandete gehad het. Die 7 van hulle neem behoorlik die kombuis oor en jy kan nie glo hoe hulle kan mors nie. Hulle vee elke aand die kombuis, maar vergeet om die tafel skoon te maak en as hulle die skottelgoed was, is dit erg half en word dit nat weg gepak.
Vrydagmiddag bak Alta en een van die klein seuntjies, koek want Saterdag was dit sy verjaarsdag. Die Saterdag is daar ook sokker en ander spelletjies gereël en die partyjie is vroeg en vinnig verby, sodat hulle ook by die ander goed kan wees.
Dit gaan redelik met meeste van die kroniese siek kinders, daar is ’n paar wat nie beter word nie, maar dit gaan darem ook nie slegter nie. Bid asseblief vir die kinders wat ly as gevolg van hul ouers se sondes.

Bid asseblief ook vir die seun wat leuns vertel en dat hy sal besef dat dit hom nêrens gaan bring nie en dat ’n gees van waarheid met hom en al die ander sal wees.


Dinsdag 22 Julie 2014

7 - 20 Julie 2014

Daar word steeds geverf, die beddens is klaar en die vensterrame word begin. Ons het  positiewe kommentaar van een bestuurder oor hoe die dorm lyk, gekry.
Daar is probleme met die internetkoppelling en die spoed is stadig.
Die verblyfpermitte is verder ook ’n probleem, die konsulaat in Nelspruit wil toestemming vanaf Immigrasie in Maputo hê voor hulle ’n visa uitreik en die briewe is tans by Immigrasie vir goedkeuring. Mosambiek het begin vasskop oor toegang tot Mosambiek. Daar is probleme met instroming van mense na Mosambiek want daar is nou geld te maak in Mosambiek.

’n Besoekende pastoor van Australië praat interessant oor uitbranding Maandagaand en Woensdagaand gee ’n pastoor van America ’n praatjie. Hy vertel ons dat hy op 16 ’n gelowige geword het na ’n lewe van dwelms en alles wat daarmee gepaard gaan. Maar die intreressante is dat sy hele gesin, oupa en ouma ingesluit binne 3 maande hulle lewens aan Jesus gee.

’n Sendelingpaartjie van Noorweë met hulle 2 kinders is gedurende die week vir ’n paar dae Nelspruit toe. Daar het hy egter siek geword en die hospitaal beland. Ons het aangebied om hulle hierdie naweek, wat ons terug moet terug gaan SA toe, in Nelspruit  te gaan haal. Gevolglik is ons Donderdag hier weg SA toe en Vrydagoggend deur Nelspruit toe om hulle te kry en weer terug Marloth toe waar hulle die naweek saam met ons deurgebring het. Hulle kon nie regtig vasstel wat hom makeer nie. Hy vertel dat van hulle vriende in Noorweë hom laar weet het dat een ’n visioen gehad het waar ’n engel hom weg ruk van demone en ’n ander een dat hy ’n stem gehoor het wat sê dat hy gesond is. Byde het met hom binne ’n uur gekontak nadat hul die ervaarings gehad het en daarna het hy ’n verligting ervaar en begin om beter te voel. ( Hy het die vorige week of twee vir mense gebid en demone uitgedryf.)


Die kinders se reaksie was interresante, Donderdagmiddag terwyl ons pak daag die kinders by ons op en wil weet watter sendeling staan in vir ons by die dorm. ‘n Groot betoog gaan op na hulle hoor wie die sendeling is, want hierdie sendeling gee nie snoepgoed nie (die maag is die belangrikste en hulle is deeglik bewus wie gee en wie nie.)

Dinsdag 08 Julie 2014

30 Junie – 6 Julie 2014

Dit was ’n baie besige week. Die jong Suid-Afrikaners verf steeds beddens in die camarata. Daar is ook hulp van ’n paar meisies van Engeland en Amerika (dink dis  die jong boertjies wat die eintlike trekpleister is.) So tussen deur gaan hulle ook op uitreike en daar is nog ’n paar beddens wat verf benodig teen die einde van die week. Daar is hoop vir Suid-Afrika as alle jong mense van hulle kalliber is.
Ons het ook ’n noodhulplesing Dinsdagaand gehad van ’n besoeker. Die sendelinge was op hulle stukke en ons lê soos ons lag.
Donderdagaand is dit ons beurt om by die Oasis-span (die span van Natal) te eet. Voor ete bid hulle vir ons. Daarna was dit kerk en aan die einde van die diens word al die besoekers (± 30) gevra om vir elke kind, pastoor en sendeling te bid, ons vorm ’n ry en elke besoeker bid vir elk van ons. Dit is ’n ongelooflike ervaring behalwe vir die agtergrond musiek wat oorverdowend was en dit moeilik gemaak het om al die gebede te hoor.
Ons nooi al die Suid-Afrikaners om Vrydagmiddag saam te kom braai, enigste tyd wat oop is, aangesien die ouer groep (Oasis) elke aand etes voorsien aan sendelinge. Die grootbaas gee ook ’n bydrae vir ekstra vleis. Al is meeste van die klomp Engelssprekend, kuier ons soos net Afrikaners kan. Vrydagaand eet al die sendelinge saam met Oasis.
Die wat siek is raak bietjie minder, soos die waterpokkies en maagvirus die wyk neem. Ons bid steeds vir ’n paar ander wat kroniese siektes het en ook vir die dogterjie Lucia wat laas jaar so siek was. Daar steek ’n paar simptome kop uit wat ons op ons hoede plaas aangaande haar gesondheid.
Een van die grootseuns het Dinsdag verjaar en het ’n ete bestel saam met 10 van sy maats en ons het besluit om dit Vrydagaand te doen.
Ons word weer gevra om Sondag nog ’n ete vir so 50 mense te hanteer hier by ons huis.
Sondagoggend preek Amy Lancaster en sy hou tot die kleintjies se aandag met haar preek. Sondagaand het ons worship in die prayer room met wonderlike ondervindinge.
Dus het die week ernstige beplanning geverg om alles glad te laat verloop.

Woensdagaand hoor ons van ’n groep Amerikaners oppad na die Pemba Iris basis, wat by Pemba Lughawe toegang tot Mosambiek geweier is omdat hulle nie visums het nie. Al die lande waar Mosambiek konsulate het moet die besoekers hul visums daar kry voor hulle Mosambiek toe kom. Slegs besoekers van lande waar daar nie konsalate is nie mag tot in Mosambiek vlieg en by die lughawens visums kry. Donderdag word hulle op vliegtuig Suid Afrika toe en ons word ingelig dat die span by ons moes kom kuier vanaf Sondag tot Woensdag. 




Saterdag 05 Julie 2014

23 – 29 Junie 2014

Dit gaan beter met die maaggriep en waterpokkies. Wil lyk of die meeste nou gesond is en nuwe gevalle is baie minder. Die baba wat in die hospitaal was, is ook terug en ook Kenssane is ontslaan uit die hospitaal, maar hulle is nog nie weer 100% nie en het nog gebede nodig.
Die kinders was baie opgewonde die hele week, hulle is genooi om Vrydag, by die presidentsvrou te gaan eet. Alta was besig om veral die skoen situasie uit te sorteer, vir die besoek, hulle klere wat hulle kinderdag gekry het, is goed vir die besoek. Wanneer hulle skoene nog goed is en hulle sien een kry ’n paar, dan breek hulle hulle sin sodat hulle ook nuwes kan kry. Ons kan nie sulke gedrag toelaat nie en die wat dit doen kry dan net nie skoene nie, maar ons kan hulle ook nie met vlenters na die presidentsvrou toe stuur nie. (Het Salomo se wysheid nodig.) 80 van die jonger kinders is saam met die educators en een van die sendelinge met die bus weg. Hulle is nie die dag skooltoe nie en het lekker geëet en is toe nog met speelgoed ook bederf.
Hier is ’n groepie van 6 jong Suid-Afrikaners van die Kaap waar hulle studeer, maar klink of meeste oorspronklik in Natal op plase gebly het. Hulle het aangebied om te help met verfwerk in die camarata en het begin om beddens te verf en dit sal gaaf wees as  hulle ook nog by van die vensterrame kan uitkom. Dan het daar ook ’n ander Suid-Afrikaansespan gekom. Hulle is van Howick en is ouer mense en hulle maak kos en dan kan die sendelinge saam eet. Een is ‘n ‘Auto Electrician’ en het aangebied om met die voertuie te help wat probleme in sy veld gee.

Die sendeling wat vir die kinders Engels geleer het, gaan vir so 3 maande huis toe. Die kinders is baie lief vir haar en sy bederf hulle baie. Almal is jammer om haar te sien gaan, maar ook baie bly dat sy bereid is om terug te kom.