Dinsdag 30 September 2014

15-21 September 2014

Ons het heerlik gerus en net iets gedoen as ons regtig nie anders kon nie of dit wou doen, praat van sleg wees! Ons het ook besef dat ons dit regtig nodig gehad het.
Dit is egter ook lekker om terug te wees en die kinders het sommer grootter geword. Ons het ook ’n nuwe seuntjie by gekry terwyl ons weg was, hy is baie klein vir sy 8 jaar, meer soos ‘n 5-6 jr. Die mamma het hom en sy sussie by die hek by die sekuriteitswagte gelos en gesê sy gaan vir hulle koekies koop. Ons het vandag die sussie wat jonger is, in die kerk gesien, sy is die mooiste klein dogterjie, met pragtige groot ogies, ’n klein moedertjie en vol liefde vir haar boetie.
Dit was besig van die oomblik dat ons hier gekom het, en die hele week. Dis opvang wat agter wee gebly het terwyl ons weg is en uitsorteer wat alles gedoen is in die tyd dat ons weg was. Die kinders se klere het aandag nodig, wat te klein is moet vervang word, asook die goed wat stukkend is het aandag nodig. Alta help ook vir die naweek uit by die babas.
Voor ons weg is het ons die seuns belowe dat ons almal wat verjaar, 4 van hulle, se verjaarsdae sal vier en een groot partytjie sal hou. Hulle was baie opgewonde. Hulle het hoender en pasta bestel en ons het hoenderboudjies teen ’n goeie prys gekry. Dit met koolslaai,’n koek en nog wit paashase en vrugtesap het die tafel laat kreun. Die hoender, het Alta 9:30 in die oond gesit, maar die stoof wou nie die mas opkom nie en later het sy maar die mikrogolfoond ingespan om dit gaar te  kry. Hulle het elkeen ’n tweede en party selfs ’n derde porsie kom haal. Dit nadat hulle ’n uur en ’n half vroeër, middagete gehad het.
Gebedsversoeke:
Bid asseblief dat die nuwe seuntjie goed sal inskakel en dat sy gesondheid spoedig sal verbeter. Hy het ’n neus en keel infeksie wat ook sy oë affekteer en ook ’n uitslag, om sy neus en mond en op sy arms. Ook dat hul ma sal terug kom en ten minste vir hulle sal kom kuier.
’n Dogter van so 8jaar sukkel met allergie en asma, nou het sy polipe ( hoop dis reg gespel) wat op haar stembande groei en sedert die vorige operasie is dit so ongeveer 8 weke en sy moet weer geopereer word, haar stem is alreeds weer geaffekteer en dit kos elke keer 10000 dollar. Bid vir goeie verloop van operasie, genesing en finansies.

Hier was ook ’n ongeluk, wat daartoe gelei het dat een van die werkers met petrol gebrand het. Die genesing het aanvanklik goed gevorder , maar daar is ’n infeksie op een plek wat  nie regkom nie en hy moes terug hospitaal toe. Bid ook vir finansies in die geval, want elke 4 dae wat die verbande vervang moet word kos dit 500 dollar. Dit is geweldig pynlik en dit neem 3 ure om dit te doen.