Maandag 30 September 2013

23 - 29 September 2013

Maandagoggend word ons begroet met die nuus dat ‘n onderwyser van die skool dood is en sy vrou erg beseer is, nadat hul aangeval is Sondagaand oppad huis toe van ’n troue af. Sy het hulp by die sentrum kom soek en is hospitaal toe geneem met kapwonde aan haar kop. Die skool neem 2 dae as rou en gee die kinders af. Ons bid vir die onderwysers en skool en die gesin. Die vrou het hier op die sentrum groot geword. 
Die Woensdag is ’n nationale vakansiedag. Die kinders is oral en verveeld en verder is dit warm.
Donderdag is die begrafnis en van die ‘educators’ en grooter kinders gaan saam met die busse wat gereël is.
Vrydag is dit baie warm en ons is besig met reëlings vir ‘n kombuistee vir die bruid wat volgende Saterdag trou en ‘n braai vir die manne, om hulle besig te hou, by ons huis.
Vroeg Saterdagoggend moet die rekenaar, wat vir die inklok van personeel gebruik word en in ’n baie stowwerige plek staan, skoongemaak word. Daarna help ons ’n sendeling wat na ’n huis in die gemeenskap trek. Dit is nie te ver nie maar dit is dik sand vir so ’n kilometer en ’n half met die sentrum se 4x4 bakkie.
Die wind waai erg en later die aand begin dit reën. Laat aand bel die wagte en sê dat daar ’n ontploffing by die transformator was en Petrus moet gaan kyk. Hy het gedink opstaan en uitgaan in die reën om elektrisiese probleme uit te sorteer was verby na hy by die stadsraad weg is. Die probleem is nie groot nie, die eintlike probleem is om die elektrisiteitsvoorsiener hier te kry om die hoogspanningsekerings te kom vervang, teen Sondagaand het hulle nog nie opgedaag nie. Die noodgenerator word deur die nag afgesit en Petrus moes dit Sondagoggend 6 uur weer aan die gang sit, so hy het 2 vroeë oggende gehad. 
Sondag is dit koud en kort-kort drissel dit en die generator wil nie byhou met die vrag nie wat meebring dat vragbeheer gedoen moet word.

Die wêreld is mooi skoon na die reën en dit is nou weer makliker om op die sand te loop wat deur die reën gekompateer is (dit is soos om op die strand te stap, dit is makliker naby die water waar die golwe spoel as hoër op waar die sand los is).

Sondag 22 September 2013

16 - 22 September 2013

Maandag kom ons terug na Zimpeto en die grens is chaos. Elke taxi word afgepak en deursoek en die pad word totaal geblok, sodat al die ander ook moet wag tot daar spasie is om deur te kom. 
Dinsdag is dit Inacio se verjaarsdag en hy het ’n foto van ’n drie-laag-toebroodjie in ’n tydskrif gesien en dit vir sy verjaarsdag bestel. Hulle het die foto presies gevolg en hul eie broodjies gebou. Later die middag het ons vir Paulo winkel toe gevat en vir hom ’n T-hemp gekoop, dit was sy verjaarsdag verlede Saterdag.
Woensdag hou ons partyjie vir die groot seuns om Inacio en Betino se verjaarsdae te vier. Betino kry kans om te help om die koek te bak. Donderdag is Betino se eintlike verjaardag.
Vrydag is baie warm, 39ºC, nie dat die vorige 2 dae veel koeler was nie (37ºC) en almal kla oor hoofpyn en moegheid van die hitte.
Saterdag is erg winderig en word al kouer soos die dag aanstap. Deur die nag drip dit bietjie, maar die sand is nie eers nat onder die bome nie. Sondag is die windjie koud, maar nie so sterk nie.

Aangesien daar nie veel gebeur het nie, afgesien van die verjaarsdae, het ons gedink om terugvoer te gee i.v.m. die siek kinders waarvoor ons vroër van jaar gebid het. Lucia vorder goed, sy kry gereeld fisio om haar sterker te maak en te keer dat haar hande en spiere nie ineentrek nie. Ons is dankbaar vir haar vordering, die dokters het nie gedink dat sy sal oorleef nie en haar gees is sterk, sy het 2 weke nadat sy uit die hospitaal ontslaan is gevra om in die kerk te sing. Kenssane die een wat die hartoperasie gehad het, vorder baie goed, sy brabbel, sing en klap hande uit haar eie sonder dat iemand haar voorsê en aap almal na. Inacio het ook lanklaas ’n infeksie gehad en was besonder opgewonde oor sy verjaarsdag.

Inacio en die toebroodjie


Betino

Maandag 16 September 2013

9 - 15 September 2013

Maandagoggend daag die Predikant van die Afrikaanse kerk in Matola hier by ons op vir ’n kort besoek. Hy het gesien ons is nog in Maputo, na ons Sondag weer ’n keer by die kerk was, en besluit om by ons aan te kom terwyl hy hier by ons verby gery het. Die eerste waaroor hy met ons praat is ons ‘dires’ (werkpermitte), nou ons het nie sulke goed nie en weens die koste (±R6000 elk per jaar) het ons dit afgeskryf en aanvaar dat ons nie die geld het nie. Hy vra of hy die kerkraad namens ons vir die fondse kan vra. Dinsdag skakel hy ons en vertel dat die fondse bewillig is, ±R13000 wat ons nodig mag hê vir die permitte. Ons is sprakeloos en al antwoord daarop is dat God ons steeds in Mosambiek wel hê.  

Dinsdagoggend sien Alta een van die kleiner seuns by die skool en sy wange is dik geswel. Na skool neem hulle hom kliniek toe en sê dat hulle pampoentjies vermoed. Hy word in isolasie geplaas om die kinders wat HIV positief is te beskerm en ook die groter seun in die ‘camerada’. Die volgende dag sien hy die dokter wat dit bevestig en hy moet nog 7 dae daar bly. Siestog hy en die oppasser is beide so verveeld en hy word erg bederf om op te maak vir die afsondering en eensaamheid. So ver is daar nie nog pampoentjie gevalle aangemeld nie.

Woensdag begin die krag probleme, die voorsieningsowerheid is blykbaar besig met onderhoud en ons kragopwekker wil nie byhou met die vrag nie, wat beteken gedeeltes moes afgeskakel word. Laat middag skakel hulle die krag aan maar daar is 2 fases weg en hulle word geskakel om reg te kom maak. Hulle daag eers 11 uur die nag op en daarna kom almal se krag eers weer aangeskakel word. Donderdag was weer ’n herhaling van Woensdag en wat oor die res van die tyd gebeur het weet ons nie, want ons was in SA.

Woensdagaand bied ons Home Group hier by ons aan, in die kinders se speelkamer en almal pas in. Ons vra dat hulle gebedsversoeke gee en almal gee hul versoeke en terugvoer is ook goed.
In die ‘nursery’ is ’n nuwe babatjie, Tiago, (Jakobus se Portugese weergawe) hy weeg 2.6kg en is 2 maande oud. Dis chaos met die krag wat af is en boon-op is al die babas nog siekerig ook.


Vrydag tot Maandag is ons Marloth toe en het lekker gerus want Petrus het weer nie alles ingepak wat Alta wou saamvat nie, met die gevolg die naaldwerk wat Alta daar wou doen nie daar was om te doen nie.

Maandag 09 September 2013

2 - 8 September 2013

Maandag hou ons die opening van die ‘Prayer Room’. Dis al die naweek ’n geskarrel om alles gereël en op die regte plekke te kry. Ons hoor dat daar ongeveer ’n duisend mense gaan wees en verstaan nie mooi waar almal vandaan gaan kom nie, maar doen alles soos gevra. Wat ’n gesig om soveel kinders en mense saam in die kerk te sien. Maar moet sê dis nogal ’n storie om die kinders, veral die kleintjies van die ‘Baby house’ en ‘Nursery’ betyds in die kerk te kry en net toe hulle gereed was en oppad kerk toe, daag een dogterjie wie aangeneem word se aanneem-ouers op met koek en koeldrank om dit te vier. Nodeloos om te sê hulle was nie betyds nie, maar daag bietjie later op.
Die opening is deur die kinders, sendelinge, pastore, personeel en besoekers bygewoon. Dit het begin in die kerk met ‘worship songs’, gebede, opvoerings en getuienisse oor die gebedskamer se oorsprong. Daarna is die sentrum se afdelingleiers, pastore en sendelinge vooruit na die gebedskamer toe gestuur om ’n seëntonnel in die huidige gebedskamer te vorm. Daar het elkeen olyfolie gekry om sy/haar hande te smeer en daarna het almal vanaf die kerk gekom en deur die tonnel geloop. Waar vir hulle gebid is en geseën is deur aanraking van die geoliede hande. Na die seën is die leiers, pastore, sendelinge en besoekers met die trappe op na die halfklaar werklike gebedskamer waar daar nagmaal gevier is. Dit is ook duidelik gemaak dat die gebedskamer net ’n gebou is, maar dat dit ’n praktiese plek is waar enige iemand kan kom sit / staan / lê / kniel in gebed / ‘worship’ vir en met God.
Woensdagaad se ‘Home Group’ sê Celia, die sendeling wat in ’n ongeluk met ’n kind betrokke was, dankie vir almal se bystand en gebede en gee terugvoer oor hoe en wat alles met die hofsaak gebeur het. Die hof het haar ’n boete van 14 000 meticals opgelê al was sy nie werklik verantwoordelik vir die ongeluk nie. Die pa, van die kind wat dood is, is ’n pastoor en hy wil nou oorkom met sy gemeente na Celia se kerkverband in Mosambiek (Celia is wel ’n sendeling hier by Zimpeto maar sy doen ook uitreike in haar kerkverband wat haar hierheen gestuur het). Daarna gee ’n besoeker, wat spesiaal gekom het vir die opening van die gebedskamer, en 2 van die sendelinge woorde van seën, bemoediging en profesië aan al die sendelinge. Die besoeker is baie akkuraat en sy ken ons nie.
Saterdagoggend besef Alta een van die kleiner seuns verjaar volgende naweek en ons sal nie hier wees nie, want ons moet SA toe gaan, so sy begin met verjaarsdagreëlings en ons hou verjaarsdagpartytjie die middag.
Sondag is ons vir ’n slag weer na die Afrikaanse kerk toe, in Matola. Jan de Wet is die naweek hier en lei die diens. Alta sê sy het weer vir ’n slag lekker saamgesing. Moet sê ons is nou al goed geoefen in lang dienste, want die uur en ’n half wat die diens geduur het was vinnig om, veral omdat ons verstaan het wat gesê was. 
Ook 'n bietjie op YouTube gesit en die link is http://youtu.be/QTURXz-aE6c
Gedeelte in kerk

Binne die  onderste gedeelte van gebedskamer

Seëning

Nagmaal


Aansigte van die gebedskamer se gebou


Maandag 02 September 2013

25 Augustus – 1 September 2013

Terwyl ons in SA is verneem ons dat daar ’n nuwe seuntjie ingeneem is by die sentrum en by ons groep geplaas is. Dit is interessant om te sien hoe hy alles geniet hier by die sentrum en dit lyk glad nie of hy na sy ouma verlang nie.

Toe ons by die huis kom die Sondagmiddag  is die venster van die deur oop en gebreek. Ons het ’n besoekertjie gehad wat deur die diefwering 270x200mm geklim het. DVD’s lê die sitkamer vol en ook in die kombuis. Die waaiers was aan en meneer het ’n nuwe melk opgemaak, die ketel ingeprop en vir hom ’n koppie tee met suiker en melk gemaak. Hy het ook vir hom en sy maatjie ’n broodjie gesmeer en in die koskas op die goed geklim om by lekkers en grondbonebotter uit te kom. Voor hulle by ons uitgekom het, het hulle ook by die besoekersentrum ingebreek en probeer een van die sentrum se voertuie steel. Hulle is gevang en hulle straf was om in ons tuin Maandag na skool te kom werk, (Alta moes hulle twee en ons 8 seuns besig hou en was moër as hulle twee) en hulle is ook vir ’n week huis toe gestuur. Dit bring mee dat die familie weet wat hul gedoen het, en dan moet hulle ook nog met taxi’s by die skool kom en terug gaan.
Nadat ons uitgepak en opgeruim het, is ons na die sportveld waar daar ’n span van Engeland vir die kinders sport/speletjie aangebied het en dit met ’n worsbroodjie en ’n koeldrank vir elkeen afgesluit het. Die kinders het dit baie geniet. Dit was nogal interessant om die Engelsmanne dop te hou worsbraai in vlamme ipv op kole.

Maandag en Dinsdag verloop normaal, die kinders geniet die tuin en speelkamer by die huis baie. Ons het ’n e-pos van ’n Afrikaanse vrou in Abu Dhabi gekry wat ons blog gesien het en hul werk daar met kinders en hulle wil vir ons camerada se kinders bid. Dis so wonderlik! Ons het met die seuns gepraat en hulle sal hul versoeke vir ons gee om aan te stuur. Ons het ook ‘n ‘playstation’ gekry en Dinsdagaand vir die groter seun gesê dat hulle mag kom speel en dat net ons camerada se groot seuns mag speel, hulle kon nie wag nie en was Woensdag vroeg al hier. Die hele sentrum se seuns beny hulle en ons kleintjies die meeste. Dit wil voorkom of dit die deurbraak was met die groot seuns, want hulle is nou baie meer oop en praat met ons.
Woensdag moes Petrus vroeg opstaan om 06:30 saam met die baas van die sentrum, ontbyt in die stad te gaan eet en daarna ’n potjie golf op Maputo se gholfbaan te gaan speel. Soos met alles in Mosambiek het die gholf ook sy eie uniekheid gehad. Jy ry tussen die privaat hospitaal en privaat Portugese skool deur op ’n teerpad (luuks en baie geld) na ’n grondpad wat eintlik nie lyk of dit rybaar is nie met lae inkomste huise. Die pad eindig na so 3km by die hek van die gholfbaan. Die parkeerterrein en geboue is maar vervalle, jy betaal baanfooie by die sekuriteitsgeboutjie (400 meticas). Daar het 2 joggies (200 meticas elk) opgedaag en een het volgens hom ’n voorgee van 10. Daar is nie so iets soos ’n telkaart wat vir jou die putjie-uitleg wys en baansyfers gee nie. Die baan is egter nogal in ’n goeie toestand en mooi groen. Jy moet egter maar jou oë oophou want daar is baie voetgangers op die baan, want daar is huise regom die baan en die baan is ’n kortpad. Orde is daar ook nie, wanneer jy by jou bal kom maak die joggie ’n grashopie en plaas jou bal daarop, as jy in water beland gaan haal hulle jou bal en plaas dit pragtig vir jou. Jou telling is jou eie probleem. Petrus se joggie was na die einde se kant toe redelik moedeloos met hom want Petrus doen niks wat hy vir hom vertel hoe hy moet slaan nie (dis nou nie dat hy nie wou nie). Woensdagaand met ‘home group’ vertel ’n oud sendeling, Maureen  hoe sy hierheen gekom het en dat god dit op haar gelê het om vir die sentrum en kinders te bid en dat die gebedskamer-idee by haar begin het.

Vrydag is vrek warm en dit sneeu in die kaap. Voorbereidings begin vir die ‘opening’ van gebedskamer, Maandagoggend.
Saterdag moet Petrus grassny met die elektriese-kantsnyer wat van SA saamgebring is. Daar is nie grassnyers hier beskikbaar nie.

Sondagoggend is die kerk weer met oorverdowende volumes, almal wonder hoe om die Mosambiekers te kry om dit sagter te kry, later (13:30) braai ons, ‘n kort middagslapie en verdere voorbereiding vir die opening van die gebedskamer Maandag. Julle sal dalk onthou dat ons al so iets gedoen het, wel dit was net die onderste vloer en net ons hier op die basis. Intussen is die boonste verdiepping gebou en is selfs die dak al op, kort nog vensters en ’n paar deure. Die plan was dat dit sou klaar wees, maar dit werk toe nou nie so uit nie, maar omdat daar met gaste soos Maureen gereël is, wat ver gekom het, om hier te wees gaan ons voort met die amptelike inwyding.