Sondag 18 Augustus 2013

12 - 18 Augustus 2013

Ons het verlede week geskryf van die kinders wat siek is en dat ’n mens tog geheg raak aan hulle. Ons kon nog altyd ’n afstand handhaaf maar nou raak dit al moeiliker, ons is die week ingelig hoe om die een kind in ons dorm te begelei want medies kan daar niks meer gedoen word nie. Daar word nou gewag vir Jesus om hom te kom haal wat binne dae of nog ’n jaar of twee kan wees maar daar is steeds wilskrag in hom en hy erken nie openlik dat hy siek is nie. Verder is daar die klein dogtertjie wat nou van die hospitaal terug gestuur is want hulle kan ook niks verder vir haar doen nie en wanneer jy na daardie gesiggie kyk dan raak dit jou hart.

Ons is besig om in die camerata dit beter en mooier te maak vir die kinders. Een van die sendelinge doen houtwerk en hy het klerekaste vir die klein seuntjies gemaak, waaroor hulle erg opgewonde is en ons is vertel dat hulle name op hul kassies geskryf moet word. Die badkamers is in die proses om geverf te word en ons het ou tafels wat stukkend is gekry om reg te maak en af te skuur vir ’n nuwe laag verf en nuwe blaaie.
Ons het die kinders gevra wat hulle graag  in die camerata wil hê en die eerste ding wat genoem is, was waaiers. Hulle wil ook graag ‘n “disco” hê, dit is ’n CD speler. Verder wil hulle ook ’n yskas en ‘n “sofa” hê. Nou ja dis nou ook nie goed wat met die klap van die vingers aangestap sal kom nie, maar die yskas is nogal nodig veral vir die kind wat siek is en nie altyd vir die rys en droë bone-geregte lus is nie. Hy is baie lief vir yoghurt en melk en dit hou nie as dit nie in ’n yskas is nie en die ander smag na koue water in die warm weer. Dit was alreeds hierdie week weer hier rondom 31°C.

Vrydagaand so half nege word ons ontbied deur die hoof educator, 3 van ons seuns is gekry met DVD’s wat nie aanvaarbaar is nie. Twee was horrors en een aksie maar net een het ’n hoë ouderdomsbeperking gehad. Die vraag is waar trek jy die streep, want enige seun hou tog van aksie flieks en alles kan tog ook nie van hulle weggehou word nie met ’n gevolglike totale onkunde wanneer hulle die wêreld buite moet betree nie.

Saterdag is ons deur die grens Marloth toe vir ’n week van rus en Vella wat so 4 vt iets hoog staan, is saam met ons. Sy kom van Engeland af en is al 8 jaar by Iris. Ons sal nie volgende week ’n blog-inskrywing plaas nie.


Ons sal graag nog mense wil hê om vir die kinders te help bid. Stuur asseblief ’n e-pos en ons sal meer inligting gee oor een of twee van die seuns as julle jul weg oopsien om vir hulle te bid. Die meeste van die seuns het nie ouers of ander familie nie en dus niemand wat vir hulle bid nie. Hulle wissel tussen 13jaar en 18jaar. Hulle het ook nie ‘n plek waarheen hulle sal kan gaan, wanneer hulle die sentrum verlaat nie.

Maandag 12 Augustus 2013

29 Julie – 11 Augustus 2013

Ons het weer ’n week gemis omdat ons verlede naweek getrek het en die res van die week uitgepak het en moes ook voorberei om Woensdagaand se Home Group te lei.

So 2 maande gelede het die Switserse egpaar met 4 kinders gevra of ons nie huise wil ruil nie, want waar hulle aan die anderkant van die sentrum woon is die naweekgeraas en honde van die sentrum en hulle kan glad nie met die geraas slaap nie. Hulle is intussen met vakansie terug Switserland toe en ons het oor naweke gaan luister of dit regtig so erg is met die slotsom dat dit nie is nie. Hier in Mosambiek is daar ooral kroeë en nagklubs in die woongebiede (waarvan daar 2 reglangs die muur van die sentrum is) waar daar naweke van Vrydagaand tot Maandagoggend heeltyd geraas word met musiek op maksimum volume. Ons bevinding was, dit is dieselfde geraas as waar ons bly en besluit om te ruil as dit die Switsers gelukkig sal maak en dit het verlede Saterdag gebeur na hulle terugkeer. Met die pakkery die voorafgaange week kon ons nie glo hoe vinnig mens kon opgaar nie en dit in 7 maande, maar moet darem toegee dat ’n groot hoeveelheid vir die kinders is wat ons hou om met tyd uit te deel. Die nuwe huis is grooter met verskillende vertrekke en nie soos die eerste met kamers wat in ’n groot leefruimte en kombuis uitloop nie. Die voordeel is, dat daar ’n tuin met 2 groot bome is, wat heerlik sal wees in die somer en die huis het ook plafonne in wat dit koeler maak. Na 2 naweke is ons bevinding dat dit vir ons baie stiller hier is, al is daar ’n dorm met 4 jariges aangrensend en oor naweke is die geraasvlak dieselfde as by die ander huis en die honde is ook nie ’n probleem nie. Wat ons nie meer hoor nie is die verkeer in die straat en die kinders by die skool gedurende die dag.

Dit gaan nie goed met ons siek kinders in die sentrum nie. Judith, ’n sestienjarige diabeet, wat sukkel om haar suiker af te hou is, weer in die hospitaal na die hospitaal haar medikasie met sterioide gegee het en dit haar suikervlakke erg beïnvloed. Lucia die vierjarige met TB en nog iets wat nie bepaal kan word nie, is ook weer in die hospitaal in intensief en dit wil voorkom dat sy intussen breinskade gekry met haar siekte, die graad van skade en moontlike herstel is nog nie bekend nie. Inacio, die 16 jarige seun in ons dorm wat kanker het, het sy op-en-afdae maar het nou ook sere in die mond, hy is ook Donderdag gedoop waaroor ons verder onder toe vertel. Dan is daar Raphael, ’n gestremde seun, wat al vir ’n maand opgooi en geen oorsaak kan gevind word nie. Die probleem is dat mens geheg raak aan die kinders selfs al probeer jy om nie te emosioneel betrokke te raak oor hulle nie. Die goeie nuus is dat dit met Kensane wat die hartoperasie ondergaan he, baie goed te gaan, sy lag nou hardop, sy babbel en probeer kruip. Sy is baie meer energiek na die operasie.

Woensdagaand vertel Sonja ons van die reëlings om Inacio en ‘n ander seun te doop en dat dit by ’n huis met ’n swembad iewers gedoen gaan word. Omdat Inacio een van ons dorm se kinders is, gaan Alta Donderdag saam vir die doopery. Ons is 9 wat 9:30 vertrek van die sentrum af en is so 15 – 20 minute later daar. Die vrou waar hulle die doop hou is gereëld in die kerk en sit altyd waar die vertaling in Engels is, sy is van Suid Afrika ( Xhosa) vind ons uit toe ons daar is. Sy doen baie moeite en verskaf ook ’n ete vir ons almal en die seuns kry elkeen ’n nuwe geskenkstel handdoeke. Haar 2 seuns word ook gedoop. Gelukkig draai die dag uit om goed warm te wees vir die wat die water moet aandurf. Die doop is vir elkeen besonders. Ons was 13:20 terug by die sentrum.

Dit wil voorkom of die groot seuns van die dorm ons begin aanvaar, die oudstes is nog baie terughoudend. Ons het hul name en geboortedatums aangevra en kom toe agter dat daar ’n paar is wat verjaar het in die tyd wat die oorname geneem het. Ons het hul uitgesonder, weg van die kleintjies en gereël om Saterdag ’n tydjie met hulle te spandeer. Alta het vir hulle kolwyntjies gemaak en saam met lekkers en koeldrank gegee. Later is daar klere uitgedeel en dit was interresant dat enigiets waarvan hulle nie hou nie, nie sal vat nie al moet hulle sonder dit klaar kom.  

Vrydagaand het ons ’n oproep gekry om ons te vertel dat daar ’n klere skenking van ’n kettinggroep gekom het en dat ons dit Saterdagoggend 9 uur moet uitsorteer en onder die kinders verdeel sodat ’n TV-stasie 10 uur die kinders kan verfilm as advertensie vir die maatskappy. Die probleem is dat stiptelikheid ook hier nie belangrik is nie met die gevolg dat daar net 35 minute was om die klere vir die kinders uit te soek. Die skenking het groot opgewondenheid veroorsaak. Die jongeres het “flees” baadjies gekry, maar vir die grootes was daar meestal onderklere en dan was daar klere vir dogters.

Klein Kensane

Inasio na hy gedoop is, hy het vreugde vol gelag na die doop