Sondag 02 November 2014

20 Oktober - 2 November 2014

Een van ons groot seuns is huis toe gestuur en ons is hartseer.  Ons het ook ’n verjaarsdag gehad  en daar is nog 2 in die kommende week. Die gewone dinge hou ons besig en ons begin voorbereidings tref vir die vakansie van die kinders wat 14 November begin asook vir Kersfees.
Ons het ’n besoeker van Slovakia wat vir die kinders T-hemde gebring het en vir hulle gekleurde kleremerkers  gegee het om dit mee te versier. Sy het vir hulle Jesaia 49:16 gegee en vertel dat hulle name in Jesus se hande geskryf is en dat Hy hulle elkeen ken en alles van hulle weet. Hulle moes hul hande saam met die teks gedeelte op die hemde sit. Dit lyk of dit nogal ’n impak op hulle gemaak het. Die groot seuns is nie so gewillig om hulle name in hul hand afdrukke te skryf nie. Foto's is op facebook.
Ons was Saterdagoggend na ’n Amerikanse ‘garage sale’  toe by die wonings van die mense van die Amerikaanse ambassade. Was nogal interresant om te sien wat hulle uitgooi. Ons het ’n klompie DVD’s vir die kinders teen R30-00 gekoop. Sowat van sekuriteit is nie oral te kry nie. Daarvandaan is ons na die nuwe Builders Warehouse in Matola. Dit lyk net soos die winkels in SA maar hulle het ’n bietjie deurmekaar geraak waar hulle is, onderandere die elektriese proppe SA se 3 punt proppe en nie Mosambiek se 2 punt proppe nie. Dis was egter ’n winsgewende uitstapie want ons kon daar toerusting vir die sentrum kry wat baie goedkoper is as op ander plekke. Daarna is ons see toe waar ons ’n laat middagete by ons gewone restaurant langs die see geniet het.
Terwyl ons nog wag vir ons kos, word ons verwittig dat een kind met ’n bynes gekaring het en dat die bye almal aanval. Na ons vir die hoof educator gesê het om die kinders in hulle dorms toe te maak en die bye uit te los, hulle sal self tot rus kom, het hulle steeds ’n vuur langs die boom gaan maak (waaroor ons verwittig is dat dit buite beheer geraak het) wat die bye verder kwaad gemaak het. Ons het so ’n uur of wat later by die sentrum opgedaag met die verwagting dat die keniso (rietafskortings) van die sentrum afgebrand sal wees met bye oral, maar alles was rustig met geen by insig behalwe by die nes nie en materiaal, wat vir die vuur gebruik is, wat nog rook langs die boom. Slegs ’n klompie kinders het bysteke opgedoen en met geen erenstige nagevolge nie. Interresant die kinders vertel jou baie bye het hulle gesteek, maar as jy vra waar die steek plekke is kan hulle net een of twee wys, of glad nie. Iets steek een se voet in die sand en toe kry die bye ook daarvoor die skuld, ’n dag later.
Sondag is ons in die kerk hier en die kinders moes ’n bietjie vasgevat word. Hulle gesels en loop uit net wanneer hulle wil. Ons het ‘n lekker Sondagmiddag rus in gepas.
Gebedsversoeke:
Dit gaan beter met die man wat gebrand het, hy het Maandag veloorplantingsoperasie gehad op beide arms en vel is van sy bobene geneem, die dokters was nie heeltemal tevrede met die wonde aan sy arms nie. Bid asseblief vir verdere geneesing en beskerming teen infeksie.
Bid asseblief ook vir die kinders wat wanneer die vakansietyd aanbreek, huis toe gestuur sal word en ook vir die wat nog met aanpassing sukkel.

Bid asseblief ook vir skerming teen malaria, dis reenseisoen en daar is dus meer muskiete.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking