Dinsdag 22 Januarie 2013

20 tot 22 Januarie 2012

Sondag begin soos gewoonlik met die kerkdiens 10:00 en is net 2 ure lank. Onder is twee foto's wat geneem is gedurende die lofprysing en neem kennis van die klein bankies waarop ons sit, moet nie weer kla oor julle kerkbanke nie.

Sondagmiddag was die groot gebeurtenis waar die 8 seuns (8-10jaar en waarvoor ons verantwoordelik is) van een dorm (camerada) na die nuwe kamer in die groot seuns se dorm verskuif (die voorbereiding is in die vorige dae hieronder vertel). Dit loop goed af met verversings na die tyd. Onder is foto's, jammer party is dof maar die klomp kom nie stil staan nie.

Maandag is Alta vroeg dorm toe om te sien of die Tia (skoonmaker/versorger) opgedaag het en weet wat gedoen moet word (sy kan net Portugees praat en Alta basies geen Portugees praat nie, nogal 'n interresante kombinasie). Ons is hard besig om Portugees te leer. Petrus is vir die eerste keer na die voertuie toe. Hy wou 08:00 daar wees maar kom eers 08:20 daaraan net om uit te vind die Mosambieker wat in beheer is eers 08:30 werk toe kom en hy is ook net Portugees magtig. Daar moet elke keer 'n tolk gesoek word om te kan kommunikeer. Sy mening is dat Petrus daar is om te help met elektriese probleme op die voertuie en Petrus los dit toe maar eers daar sodat hulle kans kry om hom te leer ken en hy vir hulle, want hy is veronderstel om ook te help met die bestuur van die afdeling. In elk geval moet hy toe een van die busse se temperatuurmeter regmaak en daarna die brandstofmeter van 'n bakkie. Eenuur het hy besluit dis genoeg en is terug huistoe.
 Die seuns daag die middag al van 12 uur af by ons huis op in plaas van eers 14:00. Die Mosambieker wat moet help is besig met paspoort uitsoteer nadat die gesteel is en hy oor 'n maand na 'n konferensie gaan, en daag dus nie op nie. Dus is dit Alta en ouma, sonder 'n tolk. Daar kom 'n ander seun van die camerada saam wat so bietjie help tolk. Die seuns is opgewonde en gaan soos vinke aan. Ons lees 'n boekie met Portugees en Engelsewoorde en in Engels the Lion King. Alta word reg gehelp met die uitspraak van Simba en die koning se name. Hulle is 'n handvol en ons is uitgeput teen die tyd dat hulle weg is.

Dinsdag is Petrus 08:30 by die voertuie en hy en die werktuigkundige begin 09:00 met 'n 2 ton trok waarvan die battery nie laai nie. Die proses was soos volg: Kry 'n ander trok aan die gang en laat dit luier, ruil die trok se battery wat gelaai is om met die ander trok se battery wat pap is, laat die trok wat luier die pap battery laai en gaan verder aan om die fout op die trok te soek wat weer onderbreek word want die olie stroom by die oliefilter uit. Hierdie battery-laaiproses neem een en 'n halfuur en niks positief het nog gebeur nie. 'n Nuwe oliefilter moet gekoop word en die persoon in beheer het nog nie opgedaag om geld te reel nie. Petrus   gaan 11:00 terug om die probleem op die trok wat steeds luier, om die battery te laai, na te kyk. Die trok wil nie afskakel nie. Die probleem word gevind maar daar is nie onderdele beskikbaar nie en die persoon in beheer is steeds nog nie beskikbaar nie. 14:00 kom haal 'n pastoor vir Petrus by die huis om na die pastore se trokkie te gaan kyk wat Saterdag gaan staan het na dit deur diep water gery het. Eers moet die battery geruil word want dit is pap gekaring, gelukkig staan die trokkie voor die onderhoud se gebou en kollega John wat in beheer van onderhoud is weet gelukkig meer van dieselengins en help Petrus om dit aan die gang te kry. Petrus sal teen hierdie pas een van die dae 'n outo-elektrisien en diesel-werktuigkundige wees.

By die huis daag  net een 14:00 op. Ons stuur hom om die ander te gaan haal, nog een daag op en ons loop om die ander te gaan haal. Ons lees uit die Engelse Bybel en hulle volg niks, beur al om hul eie ding te doen. Ons vou vliegtuigies uit papier. Een van hulle is besonder oulik en vou 'n vliegtuigie wat tot op die huis se dak land. Dit was nie eers presies gevou nie, sommer so lossies en skeef, maar dit vlieg goed.
Nadat hul weg is daag Petrus op en ons ry om by die kwekery te gaan kyk hoe dit daar lyk. Langs die pad sien ons 'n paar plante en daar is papajaboompies, ons stop en vra. Hy verstaan bietjie Engels en skryf op die grond dat dit 25metikas een is, ons vra watter is manlike plante en watter dra vrugte, hy weet nie maar sĂȘ ons moet al 4 vat omdat hy nie weet nie vir 50metikas. Terwyl ons nog daar staan daag Joao (ons gids van die vorige naweek) daarop en hy ry saam na die kwekery, maar ons kry nie waarna ons soek nie. Ons soek nog na 'n vrugte- en groentemark en hy laat ons 'n bietjie verder noord ry. Dis sommer so langs die pad en op die grond wat hul ware uitgestal word en hul skermpie se dak is 'n paslaken wat oor stokke gehak is. Ons koop 'n klapper of kokosneut (die wat klapperhaar matrasse van gemaak is en die witklapper wat gerasper is en vir koekies gebruik word) en sulke witterige patattas wat ons dieselfde aand eet en nogal lekker is.



3 opmerkings:

  1. Sjoe dis omtrent vir jou 'n ding, hoe verstaan jul die Kerkdiens as dit in Portugees aangebied word? Watter tipe werk doen jul presies?

    AntwoordVee uit
  2. Dankie vir die navraag.
    Daar word vir ons vertaal na Engels maar dit bly steeds moeilik om by die draad te hou, Alta help met die toesighouding van die baba's tot 'n jaar en saam het ons 'n groep van 8 seuns van 8 tot 10 waaroor ons ook toesighou wat ook insluit dat ons hulle in die weekmiddae vir 'n tydlank moet besighou. Ek kyk na voertuigonderhoud en elektriese onderhoud. Jy wil nie dalk jou identiteit bekend maak nie?

    AntwoordVee uit
  3. Dis ek Samantha. Bly om te sien jul is veilig. Sal aanhou vir jul bid. Liefde xxx

    AntwoordVee uit