Sondag 13 Januarie 2013

Sondag 13 Januarie 2013

Kerk vanaf 10:00 tot 12:30. Die besoekers en ons nuwelinge word vorentoe geroep en daar word vir ons spesiaal gebid deur handoplegging deur verskeie mense en een persoon wat 'n gebed vir almal doen. Dis ingrypend vir ons. Ons kry ook die eerste keer die geleentheid om saam met al die sendelinge (ons is ook nou sendelinge, ek het altyd gedink jy kan net 'n sendeling wees as jy kan preek en vir ander mense voltyds van Jesus vertel) die hande op te lê en te bid, vir 'n groep wat op 'n stadium vorentoe beweeg het op uitnodiging van die persoon wat leiding geneem het. Ook nuut vir ons. Dit is net 'n bietjie moeilik met lofprysing want ons verstaan nog nie die taal nie en kry dit ook nie gevolg op die bord nie. Preke word getolk na Engels of Portugees.
Na kerk vat ons die pad vismark toe waarvan Francois my vertel het. Ons het die gids wat ons Vrydag rondgewys het saam genooi vir 'n 3 ledige doel, dankie te sê vir sy hulp, seker te maak ons kom daaruit en ons te help met die vismark. Dit reen steeds en ons ry weer 'n nuwe pad. Daar ge-arriveer stap ons in 'n geroesmoes in. Jy kan vir jou vis kies wat vir jou gaar gemaak word. Daar is alles waaraan jy kan dink uit die see. Die probleem is egter almal praat met jou, baklei onderling met mekaar en dit oorweldig jou. Na ons so half deur die plek is, steek ons half moedeloos vas by een stalletjie, ons besluit ons gaan Stone Fish vat. Onseker hoeveel genoeg is eindig ons met 7kg se vis vir 1500 meticas (R500). Weg is ons saam met 'n vrou wat vir ons die vis gaan gaar maak, by haar kombuis en eethoekie. Terwyl ons wag vir die kos wil elke smous sy produkte aan jou verkoop, van sandale tot skilderye. Die kos arriveer en ons eet lekker, die vis is regtig goed voorberei, net die oë van die visse kyk nog vir jou en vir die rekord, ek het net een graat gekry, wat ek gesien het met die inskep, en Alta kry al die grate. Na ete kom die res van die rekening, 1100 meticas (R388). Totale koste R888, ons het skoolgeld betaal en sal volgende keer van beter weet, maar het darem nog vis huistoe ook gebring.
So as julle kom kuier en wil vismark toegaan, sal ons julle vat maar julle betaal die ete.
More begin ons werk, ook nie regverdig nie, die ander nuwelinge kry 'n week om hulle self hier te vind voor hulle begin werk en ons net 3 dae.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking