Saterdag 02 Februarie 2013

30 Januarie 2013 tot 02 Februarie 2012


Woensdag het daar nie veel gebeur nie.
Donderdag is Ma Nellie alleen saam met die uitreikspan na die hospitaal, haar wedervaring was as volg: En soos ons haar ken, klim sy agter in ’n bakkie selfs nadat sy sitplek voor aangebied was (Claire het vir Alta vertel). Hulle is die slag na die kindersaal, en hier is daar toe kussings op die beddens, maar ook nie by almal nie. Die trappe is ook lekker breed en van sement. Die kinder afdeling is in ’n beter toestand, met bedkassies teen die muur vas gesit, maar dis baie beknop met 3 beddens in wat ons ‘n 2 bedsaal sal noem. Daar word vir 6 kinders deur die een groepie gebid. Die suster van die saal is blykbaar alleen en sy neem die kinders se koors. Een van die ‘ma’s’ wat by ’n kind sit, is toe eintlik die tannie van die kind want sy ma is ook in die hospitaal en haar ma kyk na haar 7 kinders terwyl sy instaan vir haar broer wat ’n pastoor is en sy het ook ’n Shangaan Bybel by haar (lekker deurmekaar en om iemand wat ‘ Bybel het en van die Here weet is skaars). Hulle gee ook ’n Portugese Bybel vir een van die ma’s wat kan lees. Traktaatjies en piesangs is ook weer uitgedeel.
Die voertuig was die slag ’n groter beproewing vir die 2 vroue-sendelinge en 6 mans van die Bybelskool.  Die voertuig vrek  kort-kort  in verkeersopeenhopings of by verkeersligte en dis warm, veral agter in die bakkie, hulle los selfs die agterste klap naderhand oop. Met die terugkom, kry Ma Nellie se maermerrie en die kop ook nog ’n stamp. Die terug rit neem toe 2 ure en hul is soentoe in 30minute.
Vrydagoggend koop Ma Nellie toe ’n stukkie van Zimpeto, trap die trappie mis, toe sy vir Anton, die tuinwerker, iets wil wys en val op ’n hout leer. Heup bietjie blou en die ribbetjie ook effens blou.

Daar was Vrydagoggend ’n groep uit na die vloed gebied, so 200km noord van hier, om te gaan help met kos en klere uitdeel. Hul is weg met 2x2ton trokke en ’n bussie. Die mense, ongeveer 150000 wat hulle huise en besittings in die vloed verloor het, word gehuisves in kampe, maar die kos is skaars en klere min. Toe hul agterkom daar is kos, het hulle op die trokke afgestorm maar die goed moes by die regering se verspreidingspunte  afgelewer word om vandaar versprei te word. Dit was so erg dat hul besluit het om terug te kom,omdat dit nie veilig sou wees om daar te slaap nie. Oppad terug kom hulle toe op ’n gru ongeluk af tussen ’n bier trok en ’n taxi. 10 dood en 5 beseer, beserings was baie erg en taxi bestuurder was vas geklem in voertuig. Een van die wat saam was het noodhulpkennis en sy het gehelp met wat sy kon. Iemand met ’n bakkie het die mense hospitaal toe gevat, want die ambulans en polisie het nie opgedaag nie. Hulle het 2 uur Saterdagoggend in ’n geskokte toestand hier by Zimpeto aangekom.

Saterdagmiddag vat ons vir Catherine (sy is die meisie van SA en was ook saam met die span na die oorstromings toe) winkels toe, want sy kon nie Vrydag saam met die ander winkels toe gaan nie. (Daar is elke Vrydagmiddag en Dinsdagoggende ’n voertuig wat die sendelinge en besoekers Shoprite toe neem vir inkopies, dit sluit ons in wat dit meer geniet om saam met die bus te ry as om self te ry.) Dit was duidelik einde van die maand want die verkeer was rof. Ons plan was om ’n slag Pick’n Pay toe te gaan maar ons ry toe die pad mis en beland by Shoprite se sentrum. Daar het sy geld getrek en ons is na die Super Spar daar naby wat ’n aangename verassing was, want dit is baie groter en baie koeler in die winkel as Shoprite.

Saterdagaand hou ons braaivleis, Petrus het die braaier en houtskool van SA saam gebring. Laura van VSA (Alta skakel baie met haar) en Catherine was uitgenooi om saam met ons te braai. Voor ons nog begin daag Celia van BraziliĆ« (basies 2de inbevel van die basis) op om Alta te kom vra oor gordyne vir die gebedskamer en sy bly ook vir die braai. Dit was die 3 babbelbekke bymekaar en ons het dit geniet. Dit was nogal interessant om die vrouens om die braaivleisvuur te sien staan i.p.v. net mans soos dit in SA gebeur. Ek was die enigste man en blykbaar het Laura en Celia (albei al 10 jaar hier) nie baie bloodstelling aan vleisbraai nie, want ek moes redelik verduidelik wat gedoen word. Ek het omtrent die hele basis uitgerook/laat ruik met die wors wat se vet op die vuur beland het, maar daar het nie nog gaste opgedaag nie. Aan tafel was dit nogal lekker want ons het die 2 Afrikaans geleer. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking