Sondag 21 April 2013

15 – 21 April 2013


Maandag het die skoolvakansie begin, gelukkig is die vakansie net ‘n week. Die kinders was vroeg reeds hier en het die hele dag hier gespeel, met die gewone stryery en rusies.
Dinsdag het ons die kinders na Maputo se Zoological Gardens toe te neem. Dit was nie duur om in te gaan nie, net 45 meticas (dis R15.00) vir 9 kinders en 3 volwassenes. By die ingang is daar ’n fosiel-muurtjie en Alta het verduidelik wat dit is en Amilton het hopenlik reg vertaal. Die tuine aan die begin is redelik, al is die padjie sand, Mosambiek standaard, maar die res is lang gras en erg verwaarloos. Dit was egter vir ons ook ’n belewenis, dis die naaste wat ons seker ooit aan ’n seekoei of ’n krokodil sal kom! Die seekoei is die eerste hok wat ons by kom, die reëling op die muur is afgeroes en plek-plek weg, die seekoei is in die water/modder, dis baie vuil water en die trog is in ’n L vorm. Ons dink nie hy kan omdraai daarin nie. Toe ons later weer daar naby kom sien ons die seekoei is uit sy watertrog en staan met sy ken bo op die muurtjie, hy maak sy bek groot oop asof hy wag dat iemand kos sal in gooi. Na die seekoei kry ons slange in draadhokke, geen glas tussen ons en die slange nie, dis ’n verhoogde sementblad met jakkalsdraad en klein ogiesdraad. Daarna is daar ’n hok waar ’n boom omgeval het en dit lê net so, al vir jare en ons wonder wat van die dier of diere geword het wat daarin was. Die krokodille lê in ’n poel water aan die sonkant, waar uitkom plek is, is digte koelte en die water is vol plastiek bottels en sakke. Die volgend hok waar ons diere in kry is ook krokodille en een lê buite die water en die heining is laag, as jy wil kan jy aan die krokodil raak. Daar was so ’n paar verlore bobbejane in een hok met ’n kleintjie wart deur die heining klim en tussen die mense rondloop. Die blou-ape het 2 hokke en klim ook wanner hulle lus het uit en loop buite rond. Daar is verder geen toiletgeriewe nie en die speelgoed vir kinders is net ’n glyplank wat die kinders se broeke sal skeur en klimrame.  Na ons terug by die sentrum is word die kinders uitgenooi om saam met die groter kinders, in hulle dorm, strand toe te gaan vir die middag. Alta is saam om te help met die beheer. Dit was laagwater en daar was miljuisende krappies en die kinders het hulle gevang en vir ons kom wys. Dinsdagaand is al die sendelinge (±20) na ’n Chinese restaurant om vir Rachel te groet wat Vrydag huis toe vertrek na ‘n jaar diens hier. Op die bus het dit erger as ’n skoolbus geklink, opgemaak met streamers en partjietoeters (blaasgoetjies wat raas). Na die ete het ons aangedring op roomys en die is by’n roomyswinkel geniet wat ons totaal oorgeneem het.
Woensdag probeer ons werk inhaal en gerus kry, maar nie baie suksesvol met die kinders wat besluit het om weer die dag by ons huis deur te bring nie. Woensadgaand het ons die kinderdiens wat gewoonlik Donderdagaande is omdat hier ’n besoekende pastoor vanaf Swaziland is wat die diens waarneem. Hy preek in Engels en ons kan volg maar hy herhaal ook weer alles ’n paar keer.
Donderdagaand het ons Home group, Nancy van Amerika (die vrou waarvan ons vertel het die vorige week se blog) leer ons van ‘round table’ met konflik as die besprekingspunt, Dit is ’n metode om lewensbeginsels te bespreek en daaruit te leer. Ons korrigeer ons self in die vorige week se blog waar ons gesê het sy bied ’n kursus aan wat deur Round Table USA opgestel is, dit is ’n kursus wat opgestel is deur La Red Business Network en meer kan gelees word daaroor op hulle webblad www.lared.org.
Vrydag groet ons Rachel  voor sy weg is lughawe toe en trane vloei. 12:45 het ons ons eerste Portugese-taalles vir ’n uur. Ons het op ’n vorige Home group vertel van ons frustrasies met die beperking om Portugees te praat, waarop Dominique (die Switser wat finansies hanteer) die kans gebruik om die metode waarin hy opleiding ontvang het met taalleer aan te wend, taalvaardigheid is ’n passie by hom en as gevolg daarvan het al die sendelinge nou al die woorde geleer ‘Ek sal bid vir jou’ na ons dit die een aand gesing het. Die opleiding begin met 20 lesse waar jy net na die taal luister, ons het begin om eers te luister na 4 groente soorte, daarna moes ons dit uitwys op prente wanneer dit gesê word, daarna het die werkwoorde, optel en neersit, bygekom waar ons die verskillende items moet optel en neersit, ens. Ons het nou 2 keer ’n week die kursus en sal sien hoe dit vorder.
Uit die gesprek met die sendelinge het ons agtergekom dat daar baie eensaamheid onder hulle is en gevolglik het ons besluit om geleenthede te skep om hulle gereeld by mekaar te bring. Die eerste was kegelbal Vrydagaand, ons was 9 wat met die Basis se bussie hier weg is in spitsverkeer. Dit was nie te duur volgens Mosambiek standaarde nie, R50 per kop. Almal het dit al voorheen gespeel behalwe ons twee, maar ons het nie teruggestaan vir hulle nie en het selfs advies gegee hoe om die bal te gooi. Dit was heel lekker.
Saterdag en Sondag is ons so stil moontlik deur met baie slaap en die veranderinge wat by die huis aangebring is (’n bykomende heining by die voordeur), het gehelp om die kinders weg te hou wanneer ons privaatheid soek.
As julle Ockie se stuk oor muskiete gelees het, dit is so dat hulle jou bykom as enige deel van jou aan die net raak. Hier is ’n nuwe plaag van muskiete tans en dit voel partykeer mens moet die deure oopmaak sodat hulle uit die huis uit kan kom, so baie is daar in die huis.
Ons kry net klagtes dat julle almal koud kry, hier is die temperatuur nog heel aangenaam (julle hoogste temperatuur is gelyk aan ons laagste) en het Saterdagaand ’n redelike swaar reenbui gehad.

Krokodil en heining is 1.2 m hoog

Bobbejaantjie wat uit die hok klim
Blou-aapie wat buite rondloop

Die seekoei
 
Toestand van dieretuin

Ete by Chinese restaurant

Die roomysplekkie, Rachel is die meisie met die grys sweetpaktop en kameraband in die hand

Verstaan dat ons die roomysplek oorgeneem het

Alta in aksie

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking