Sondag 14 April 2013

8 – 14 April 2013


Dinsdag kry Petrus die versoek om ’n besoeker met die rekenaarnetwerk te koppel, haar naam is Nancy en sy is van USA. Sy is ons ouderdom en kom al vir 11 jaar na Iris se basisse toe, ±5 weke per jaar. Baie praat, is nie die regte woorde vir haar nie, so veel so dat syself gesê het dat sy ons koppe van ons lywe af praat en toe ons nalaat om dit teen te staan was sy baie gebelg en selfbewus daaroor, maar dit het haar nie lank afgesit het nie en sy eindig op om saam met ons te eet en te help skottelgoed was. Ons ken haar hele geskiedenis, sy het ons ook vertel van ’n voorval waar sy en ander persoon gebid het vir ’n baba wat geen oë gehad nie en na hulle gebed,  het hulle gesien hoe die oog in die baba vorm. Sy het ook vertel van ’n gebeurtenis waar ’n groep gebid het vir die teenwoordigheid van die Heilige Gees, later het hulle op foto’s, wat gedurende die gebed geneem is, vuurtonge bokant elkeen se kop gesien, sy het vir ons die foto gewys. Daar was nog baie maar sy het ons dronk gepraat. Sy is baie entoesiasties en bied hierdie jaar ’n kursus aan wat deur Round Table USA opgestel en aangebied word. Ons sal meer daaroor vertel volgende week want ons deurloop die kursus hierdie komende Woensdagaand. Hier is ook nou ’n nuwe lang termyn sendeling wat Dinsdag gearriveer het. Helen is vanaf  New Zealand en help by die kliniek. Sy het ons vertel dat sy nog in haar kinderskoene staan as ’n Christen, sy is nou so ’n jaar ’n Christen en sy was by die Harvest School. Ons is nie meer die nuutste sendelinge  hier nie!!!
Woensdagaand is dit ons beurt om Home Group aan te bied. Ons het begin met eers ’n teksvers of twee en dan sing van ’n lied wat daarby gepas het. Hulle het ons uitgedaag en ons het dus vir hulle ook ’n Afrikaanse liedjie laat sing na ons dit eers vertaal het, dit was ‘Ek sal bid vir jou’. Ons het nagmaal gevier en elkeen ’n kans gegee om te vertel van probleme wat hy/sy het en waarvoor daar vir hulle gebid kan word. Dit was fantasties almal het deel geneem en ons het Donderdag ’n lys uitgestuur van elkeen se gebedsversoeke. Daar was ook verder baie positiewe terugvoer van die sendelinge wat wys maak nie saak wat se werk jy doen nie, jy bly maar net ’n mens met persoonlike probleme. Daar is ’n voorstel dat ons dit teminste een keer per maand doen.
Donderdag was heelwat koeler en  ons het baadjies en truie gesoek, iewers deur die dag was daar ook ’n paar druppels. Die kinders was knorrig en ge-irriteerd.
Vrydag was dit John se verjaarsdag en Clare wou vir hom ’n verrassing reël by die werkswinkel in samewerking met die werkers, sy stuur ook ’n email vir al die sendelinge en vergeet om sy naam van die groep af te haal, gelukkig het hy nie die email gelees nie. John het egter met middagete Vrydag besluit hy het klaar gewerk en wil saam met die bus Shoprite toe gaan. Na ons hom met ’n storie by die werkswinkel gekry het, het ons fees gevier tot hulle Shoprite toe is.
Saterdag besluit ons om 2 van die seuns saam te neem stad toe as ’n ‘outing’ vir hulle. Hulle ry roltrappe en kyk hoe mense ten pin bowling speel. Ons ry strand langs en kom op mooi ou geboue af en kom eers na ete by die huis terug. Hulle eet toe elk 4 snye brood en eiers vir middagete. Catherine het ’n braai gereël Saterdagaand hier by ons, vir al die sendelinge en vir ons huweliksherdenking verlede week. Meeste daag op en dit is ’n heerlike kuieraand. Laura en Steve en Ros vertel staaljies van jare gelede en almal lê soos hulle lag.
Sondag is ons kerk toe soos normaalweg en Sondagaand kom kyk die kinders DVD. Hulle het nou ’n week skoolvakansie. Dit kom voor asof die kinders begin vastigheid vind deur ons, hulle is kalmer, gehoorsamer en kom soek gereeld individuele aandag by ons. Hulle is jaloers op hulle tyd met ons en jaag die ander kinders, wat nie deel van die groep is nie, weg indien hulle ook hier wil kom speel.

Bid saam met ons vir een van die ouer kinders wat al swakker word, hy is HIV positief, het TB en kanker. Dit is hartverskeurend om hom so te sien lei en hy weet dat die einde nader kom. Dankie vir die wat aangebied het om vir individuele kinders te bid, daar is nog vir wie gebid kan word, laat weet asb. indien jy belangstel om deel te neem. Een van die kinders waarvoor gebid word was een van die moeilikes en hy is besig om al hoe meer rustig en gehoorsaam te word en ons glo dit is omdat daar vir hom spesiaal gebid word.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking