Saterdag 18 Mei 2013

6 – 12 Mei 2013


Maandagoggend is ons Nelspruit toe om eers vir Catherine af te laai en ’n luidspreker wat herstel moet word en daarna is ons na Kruger International Airport om Bekki en haar ma op te laai wat van Duisland af  by haar in Maputo kom kuier.  Ons het nog altyd gewonder hoe hulle ’n lughawe in die klipkoppie-wêreld gebou het. Ons kan jul verseker, daar is baie grond ingery vir die een. Daarna is daar nog ’n paar dinge wat vir ‘missionaries’ en Iris gedoen moet word, voor ons terug ry Marloth toe. Daar aangekom is dit afpak en toe neem ons die besoekers op ’n wildrit agter op die bakkie. Ons is bevoorreg en sien ’n klompie olifante in die rivier asook ’n buffel. Ons het ook zebras, rooibokke, vlakvarke en kameelperde van nader by gesien. Dit is vir hulle ’n belewenis en hulle dink dis te wonderlik met baie foto’s wat van al die diere en sonsondergang geneem word. Ons besef weer dat ons baie bevoorreg is en dat ons al hierdie dinge as vanselfsprekend aanvaar. Terug by die huis braai ons vleis, ook dit is vir die Duitsers ’n unike ondervindig. Ons kry ook besoek van die nagapie en die leeu het ook van hom laat hoor. Die baie sterre laat hul kort-kort op kyk boontoe.
Dinsdagoggend ry ons terug Maputo toe en die seuns is gou-gou daar en kom soek drukkies.
Woensdagoggend kry Catherine ‘n nuwe kind, ’n dogterjie, sy is ses en erg verwaarloos, maer en ondervoed. Sy is HIV positief, haar pa het haar verwerp en sy het maar so tussen die bure rond geswerf. Haar ma is afhanklik van die pa en gee maar net wat sy sonder sy medewete kan vir haar, die ma is by die sentrum met die opname. Sy word ondersoek, gewas en klere gegee en haar plekkie gewys waar sy kan slaap. Hulle moet nog toetse doen, maar daar word vermoed dat sy TB het en die nodige voorsorgmaatreëls word getref. Woensdag het Alta ook begin verf aan die pasgetroudes se blyplek en Vella het gehelp skoonmaak. Woensdagaand word die nuwe ‘Prayer room’ ingewy deur ‘Home group’ daar te hou en die Brasiliaanse pastoortjie, Celia, se 10 jaar diens by Zimpeto word ook terselfdetyd gevier. Die ‘Prayer room’ was ook Celia se projek en droom.
Donderdag is dit nog verf en werk aan die blyplek langsaan en rekenaar virusseprogramme wat gelaai word. Tussen al die dinge is daar ook nog die seuns en ons daaglikse take wat aandag moet kry.
Daar is 2 jongmanne onder die sendelinge wat ’n diensjaar doen op hulle terme, om meer te sê, sal nie verstandig wees nie, maar soos meeste jong manne is hul mae baie belangrik. Dinsdagooggend en Vrydagmiddag as die bus Shoprite toe gaan is die twee daar. Vrydag ry ons so 12uur om aankope vir die babas te gaan doen en Cathrine ry saam om goed vir haar kinders en die nuwe dogterjie te kry.  Ons is so halfpad oppad terug, toe een van die jongmanne vir Cathrine skakel om te hoor of sy op die Shoprite bus is en of sy vir hulle goed kan koop, want hulle het verslaap en die bus verpas. So hulle moes vir 3 dae sonder kos en lekkernye klaar kom.
Saterdag so 12 uur het ons die pad gevat Marloth toe, ons neem vakansie. Dus vir die volgende 2 weke 12 -26 Mei sal daar nie nuus wees nie, want ons hou vakansie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking