Dinsdag 07 Mei 2013

29 April – 5 Mei 2013


Maandagoggend probeer ons vroeg wegkom om die aankope vir die babas te gaan doen en kom so eenuur terug, net betyds om iets te eet voor die kinders kom.
Dinsdag is daar konsternasie in die besoekersarea. Hier is so 5 Noorweegse jonges van so 18/19 jaar wat blykbaar ’n paar Afrika dinge wil doen en een daarvan is om ’n hoender te slag en gaar te maak waarvan hulle geen benul het hoe om dit te doen nie. Eers is hulle na een van ons jongmans toe om ’n byl te kry om die hoender se kop af te kap, hy antwoord nee hy het nie ’n byl vanaf sy huis in Engeland saamgebring nie. Daarna is hulle na John wat verantwoordelik is vir onderhoud, maar hy kon hulle ook nie help nie. Gedurende middagete vertel John sy vrou Clair, wat die dag aandiens is om na die besoekers om te sien, so terloops wat hulle plan is. Sy freak uit en storm hulle om mooi aan hulle te verduidelik wat gebeur as jy ’n hoender se kop afkap en nie behoorlik vashou nie, dat die hoender sonder kop rondhardloop, die skoonmaak van ’n hoender, ens. Sy verbied hulle om so iets hier te doen want dit is ’n kindersentrum. Ons ander wonder net hoe dit sal lyk wanneer die afkop hoender die wêreld volhardloop en in wie se kamer dit dalk kan eindig, miskien die sendeling se kamer met die baie geite.
Woensdagoggend gaan hang ons die laaste gordyne van die gebedskamer op, en Alta begin direk daarna met die gordyne vir die pas getroudes se huis wat ons aangesê is om klaar te kry vir hulle.
Saterdag hou ons partyjie vir Paulo Luis. Hy is die kleinste van die groepie, maar hy het ’n kroniese loop neus en moet gedurig herinner word om sy gesig skoon te maak. Alta het al ‘n tyd gelede vir hom gesê dat as hy sy neus skoon hou, hy vir sy verjaarsdag versiersuiker op sy koek kan kry, maar as sy neus nie skoon is nie, is daar geen versiersuiker nie. Dit het heel goed gegaan, die neusie bly redelik skoon, met so hier en daar ’n waarskuwing en ons hoop dat dit ’n blywende gewoonte sal word. Hy kom help met die koekbakkery en daarna gaan ons vir hom skoene koop, maar as jy nou al ’n steeks donkie gesien het, dis nou hy toe dit by die keuse kom. Ons pak ’n ry tekkies uit wat binne ons begroting pas, maar ons kry sowaar nie sy voet opgelig om te sien of ons die regte grootte het nie. Ons het naderhand ’n klomp mense wat help om aan hom te verduidelik dat hy nou moet aanpas, maar daai voet is geanker op die vloer. Hy skud net sy kop. Naderhand lei  ons af hy wil nie dié hê wat ons gekies het nie, hy wil van die duurder tekkies hê. Dis net 20 mets (R6.00) duurder  en ons gee maar bes. Die partytjie verloop goed.
 Maar nou moet ons ook eers vertel van Augostino se ‘love letter’. Buite die hekkie sit ’n ander seun, bietjie ouer, wat ook gereëld hier kom, maar nie deel van die groep is nie en nie na die partytjie genooi is nie. Hy het hier kom speel saam met hulle en een van die groep het hom uitgestoot en Alta moes praat en sê dat dit nie mooi is om so te maak nie.  Hy bly staan en naderhand sien Alta dat die trane oor sy wange loop en  gaan praat met hom. Hulle wil hom nie hier hê nie en sy groep baklei ook met hom. Hy word toe ingebring en eenkant weg van die ander gehou. Op navraag hoor ons dat hy baie probleme het en sukkel om in te pas. So sit hy toe Saterdag buite die hekkie, ons sien hom maar hy moet maar leer jy kan nie inbreek op ander se partyjie nie. Hy sit buite en maak later die hekkie groot oop en bly doenig by die hek. Na die partyjie loop Alta op na die babas waar sy ook opdiens is en word van die camerada af al vertel dat Augustino iets gedoen het, maar verstaan is moeilik en ’n klompie loop saam om te gaan wys wat vertel word. By die huis gekom sien Alta wat hy, die hele tyd by die hekkie gedoen het.  Die hele koesyn is van bo tot onder vol geskryf, “Love Alta” . Ons lag lekker daaroor en sê as dit maar Petrus was wat dit geskryf het! Nou ja, Augustino moes dit toe maar weer afwas ook.
Saterdagaand het ons die eensame sendelinge weer uitgenooi om te kom kuier, ons bak pannekoek en eet lekker. Pannekoek is toe ook nie ’n vreemde item vir almal nie, daar is net verskillende name daarvoor. Ons kuier lekker en Sonia vanaf Brasilië vertel ons, op haar storievertel manier, hoe die Here haar gekarring het om Mosambiek toe te kom tot sy ingegee het.
Sondag so 12 uur het ons die pad gevat Marloth toe want ons moes vir Bekki en haar ma Maandag in Nelspruit gaan haal, maar meer daaroor volgende week.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking