Maandag 17 Junie 2013

10 - 16 Junie 2013

Ons het ’n rustige week. Woensdagaand  met Home Group wys Laura vir ons ’n fliek oor vergewing. Dit gaan oor wat gebeur het na die moorde op die Tutsi-stam deur die Hutu-stam in Rwanda. Dit vertel hoe Hutu’s, wat bure was met Tutsi’s en hulle persoonlik geken het, hulle vermoor het en dat oorlewende familie later die moordenaars vergewe het en vrede gevind het daardeur. Dit bly steeds so, dat solank jy nie iemand wat jou te nagekom het, vergewe nie, gaan jy nie vry wees nie en sal jy nie vrede smaak nie.(vergewe ook jouself)
Van die Vrydag voor kinderdag (1 Junie) word die kinders van die sentrum uitgenooi om Vrydagoggende 7 uur na die gebedskamer toe te kom waar die sendelinge dan vir hulle sal bid. ‘n Hele klompie van die kinders neem hierdie uitnodiging met ope arms aan en is elke Vrydagoggend daar.
Hier in Mosambiek is die dokters steeds besig met ’n staking en die effek begin nou deur die gemeenskap gevoel word. Gedurende hierdie week is daar familie van twee van die personeellede dood wat in hospitale was. Hierdie mense is moedeloos oor die diens in hospitale, dokters wat staak en die korrupte regering. Die gewone Mosambiekse burger het ons gebede nodig.
Daar is egter ook ’n anderkant aan hierdie storie, daar is ’n 15 jarige dogter by die sentrum wat ’n diabeet is en aan swaar depressie ly. Dinsdagaand is sy weer in die hospitaal opgeneem na sy vroeer die dag ontslaan was. Sy het enige behandeling teengestaan en geweier om te eet. Woensdag het haar toestand so verswak dat sy na intensief verskuif is en haar hande en voete vasgemaak is om te keer dat sy die buise uittrek. Deur die behandeling van die hospitaal, sonder dokters, het hulle tog dit reggekry om met die Here se hulp deur baie gebede, haar te red, sy is vandag Maandag uit intensief na ’n gewone saal oorgeplaas.
Sondagmiddag gebruik een van die sendelinge ons huis om ’n verrassingspartyjie vir haar Mosambiekse man te hou, nie juis enige werk vir ons nie en Petrus geniet die verjaarsdagkoek.

Ons het die afgelope tyd e-posse van Ockie en Lenie, wat in Zambie is, ontvang wat ons dink julle sal interresant vind (vir die wat dit nie direk ontvang het nie), hieronder is die e-posse en ons plaas dit met hulle toestemming:

Dagsê al die "peoples".

Alle eer aan God in die Hoogste Hemele....!!!

Dit is met groot vreugde in ons harte dat Lenie en ek hierdie terugvoer gee oor die afgelope naweek se Mediese uitreik na die Tongwa-village.
Ons was vir omtrent 'n dag-en-'n-half besig in die village maar verseker sal ons 'n boek kan skryf oor wat daar gebeur het.
Soos meeste van jul bewus is het ons in die verlede na villages toe gegaan op Mediese uitreike.
Tydens so'n uitreik het ons dan soveel moontlik pasiente probeer sien. En Medikasie uitgedeel. Elkekeer by 'n village gekom was dieselfde probleme maar weer daar. 70% van pasiente het Malaria, baie met rugprobleme en baie met knieprobleme. As gevolg van die groot menigtes, het ons baie op die uitgee van medikasie gesteun en min op gebed.
Tydens 'n onlangse opleidingsessie wat Lenie bygewoon het en wat ook deur heelwat verskillende inwoners van verskillende villages bygewoon is, het dit uitgekom dat die villagers se prioriteite totaal verskil van ons Mediese span se prioriteite. Vir ons is "gesondheid" nommer 1. Vir die mense in die village is gesondheid nommer 11 vanuit 12 opsies. Vir die villagers is heksery dié nommer 1 probleem en nommer 2 en 3 wat baie gelyk loop daarmee is alkoholisme en liefde vir geld.
Die liefde vir geld kom daarop neer dat hul eerder in haaglike omstandighede sal leef, hul kinders met fodde om die lyf sal laat loop en honger gaan slaap eerder as om die groot nes-eier, onder die bed aan te raak. Die nes-eier word dan ook aan die gode ge-offer.
Tydens en na die genoemde opleiding het die Here vir Lenie op die hart gedruk dat ons ons benadering sal moet verander.
Saterdag oggend terwyl Ockie en ons leier na die nuwe plot toe stap kyk ek, wat Lenie is, na dvd's wat al ses maande op my bedkassie stof vergader. Skynbaar was dit nou die regte tyd om dit te kyk. Nodeloos om te sê, die dvd's is kragtige bevestiging maar BAIE "challenging"! Met Ockie se tuiskoms 5 ure later vertel ek hom dat ek nou weet ... Ons benadering moet wees om op God, die Groot Geneesheer te vertrou en die naweek met gebed uit te reik na Tongwa-village. 
Wat 'n vreeslike klemverskuiwing vir my, Ockie. Ek, Gereformeerd, met min of geen klem op geloofsgenesing nie. Vir die "locals" hier op die Basis is dit weer snaaks dat ek niks van geloofsgenesig weet nie. Vir hul was dit dus nie so'n groot "skok" toe Lenie met die nuus kom dat ons op 'n Mediese uitreik gaan, sonder medisyne nie. Die leierskap het dit met ope arms aanvaar behalwe vir paar spanlede wat dink dit is malligheid. Die Here is egter getrou en bevestiging kom uit alle oorde.
So, tydens die opbou na die naweek moes ons heelwat huiswerk doen. Huiswerk in die sin dat ons na dvd's gekyk het waar die "spiritual" beklemtoon word. Ons leer baie, bid baie en lees saam die boek van Lukas as mediese span om ons geloof te versterk.
Die films is kort maar kragtig wat gemaak is waar mense in Indië, Taiwan en Afrika werk om heksery, demone en derglike dinge te bekamp asook hande oplê en bid vir die siekes, dowes, blindes. Ons in die sogenaamde Weste kom gladnie of min-min in aanraking daarmee. Vandaar my skeptiese uitkyk daarop.

Nou vir die naweek se gebeure.

Vrydagoggend so teen 10h00 vertrek ons per boot vanaf basis. Rit was so 1 en half uur lank.
Daar gekom, gou die kerkleiers gegroet wat ons "host" vir naweek. Nie veel gesê dat ons nie medisyne gebring het nie. Daarna het hele span gou vir die "village-chief" gaan groet en sy blessing gekry op ons besoek.
Na die besoek aan die "Chief" is ons terug na ons "host". Daar het ons gebid, lofliedere gesing en Nagmaal gebruik om so ook God se seën te verkry op die naweek. Hier het ons begin ondervind dat die "bose" ons nie daar wil hê nie. Elkekeer wat ons begin lofliedere sing was daar 'n span mense agter ons gebou, wat hul dromme met oorverdowende knalle begin speel het. Sodra ons stop met sing het hul ook gestop. Klaarblyklik is dit 'n manier van rekreasie vir hulle om elke dag dromme te speel. Mense het egter getuig dat hul vir die afgelope week geen dromme gehoor het nie. Later sou ons ook beleef hoe hul met die dromme die klank van die Jesus film probeer uitdoof. Ons beleef hoe die die Here ons gebede beantwoord toe die splinternuwe kragopwekker nie wil werk nie, die klank sisteem nie wil werk nie. Ons vertrou vir 'n wonderwerk en uiteindelik speel die film en sowat 200 mense sit vasgenael voor die televisie. Hul sit op klippe en in die sand en mens kan amper 'n speld hoor val (behalwe vir die dromme gedreun). Die trommers het toe maar die aftog geblaas toe hul sien hul strategie werk nie. Prys die Here!
Die kritieke oomblik in die fliek toe Jesus aan die kruis sterf, sny die kragopwekker vir geen rede uit en die skerm is pikswart. Alles pikswart want daar is geen ander ligte in die village nie. Ons snak na ons asems, ons bid, ons sing en stadig kom almal weer tot orde en die film kan aangaan nadat die kragopwekker gou weer gevat het.. Ons kyk na mekaar en weet en beleef Efesiers 6 "our struggle is not against flesh and blood ...."
Ons kondig af dat om 09h30 Saterdag oggend mense na die "prayer clinic" kan kom vir gebed.
Saterdagoggend het gekom en het ons vooraf gesing, saam gebid en toe Bybelverse die verskillende Name van die Here oral op die muur vasgeplak. Dit het ons bemoedig en ons herhinner waaroor dit gaan die dag. Ons word ook gemaan om nie die mense te salf soos die Bybel voorskryf nie, want hul kan dink dit is toordery!
Mense wag reeds en ons begin bid. 'n Jong seun, so 10 jaar oud, kom vra gebed vir bisarre nagmerries elke nag. Ons vertaler sê dié een is spiritueel. Ons bid en die kind staan kop onderstebo en oë baie-baie ontwykend. Hy kan glad nie opkyk of met ons oogkontak maak nie. Ons leer dis hoe dit is met die "demons". Na gebed sê hy dat hy voel baie beter en glimlag skeef-skeef. Paar uur later kom die seun met drie maats en wys na my en Ockie en vat aan sy lyf, baie opgewonde. Ons weet nie mooi wat aangaan tot ek hoor "pepe" wat beteken om te bid. Toe sien ons, kan dit wees? Dit is die seun, hy lag van oor tot oor en getuig aan sy vriende dat ons vir hom gebid het en dat hy soveel beter voel. Die verskil in sy voorkoms is soos dag en nag. Dankie Here!
Joyce kom en vra dat ons vir haar linkervoet moet bid wat so erg pyn dat sy soms nie kan loop nie. Joyce is 'n gelowige en ek, Lenie vra of ek haar voet kan salf. Sy sit en ek staan teen die muur en vat haar voet in my hande en saam bid ons. Tot my verstomming voel ek hoe kraak die bene in haar voet! Sy spring op en af op die voet en prys die Here. Sondag oggend in die erediens getuig Joyce hoe die Here self die betrokke oggend aan haar voet gewerk het en die maandelange pyn weg is. Ons geloof styg en styg en ons "awe" oor die grootheid van onse God.
So kom daar 'n man wat huweliksprobleme het agv sy rugpyn. Ons span bid en Ockie sit sy hand op die man se rug. Ockie en die man is verwonderd oor wat hul beleef. Hul albei het baie duidelik die Here voel werk. Ockie in sy hand en die man op sy rug. Dit het vir my gevoel asof iemand met sy vinger in die palm van my hand skryf; sê Ockie. Die man het dieselfde gevoel van vinger wat skryf op sy rug beleef waar Ockie se hand was. Weg is sy pyn!
Later kom 'n vrou en kla oor huweliksprobleme. Min weet ons dit die man met seerrug se vrou. Ons bid en praat uit spreuke oor vrouwees, oor jou man respekteer en eer. Sondag by die kerk kan die vrou nie ophou lag en dankbaar wees nie. Ons Here genees seer rue en seer huwelike.

So kom hulle en ons bid.

Nooit geweet bid is sulke harde werk nie...en toe kom Emmanuel. Gou sien ons hier kom 'n ding "demons" sê die locals in ons span. Na so 5 ure se stoei en kragtig bid raak dit rustig maar gou begin die "demon" weer die jong man treiter. Dit vat 4 sterk manne om hom in toom te hou. Die sweet tap hul af. Daar word gebid, gesing, Woord gebid, maar die "ding" lag en sê hy kom nie uit nie. (Ons het al hiervan gehoor en gelees maar nooit ondervind nie.) Later belei Emmanuel dat hy diep in satanisme vasgevang is en wil vry kom. Die kerk vat oor en sover ons weet gaan dit 'n lang pad wees. Hy kom kyk die Jesus film Saterdagaand en is in die kerk Sondagoggend en spring op toe mense vir gebed genooi word! 'n "Captive" vrygemaak deur die bloed van Jesus!

Janet, so'n 12 jaar oue dametjie kom en wil die Here aanneem as haar Verlosser. Ons bid saam met haar en haar ma. Verwys haar na 'n plaaslike gemeente.

Die 2de Jesus film vertoning, Saterdagaand verloop glad en geen tromme gedreun nie.

Seën vir julle.

Lenie en Ockie.

En


Hi,

Dit is Vrydagoggend en ons span van 14 mense is oppad na die Chipwa village vir ons tweede "Faith trip".
Die span bestaan uit tien van ons eie span en 4 Amerikaanse studente dames wat vir hul somer vakansie hier op uitreik is.
Ons moet in twee groepe vaar want die boot is nie groot genoeg vir die 14 mense plus die bagasie nie. Die bagasie bestaan o.a. uit 'n kragopwekker, TV, luidsprekers, tente, eetgerei en slaap- en rugsakke. Ek, Ockie en twee ander mense en die bagasie gaan met die eerste rit.
Hoe verder ons vaar hoe groter word die golwe as gevolg van die wind van voor af wat al sterker word. Ek en Ockie bid teen die storm, maar die skipper besluit ons moet aan wal gaan by 'n klein village om te wag tot die storm bedaar.
By die village sien ons hul is besig om 'n kis te maak vir iemand wat afgesterf het. Soos gebruiklik gaan sit ons onder 'n boom saam met die treurendes om simpatie te betoon. Na sowat 'n uur se wag klim ons weer in die boot en vertrek. Ons is nog nie eers by ons bestemming en reeds is my wat Lenie se goed beplande program van koers af. Ons leer stadig, maar ons leer wel wat dit waarlik beteken om "flexible" te wees, nie dat ons altyd daarvan hou nie!
In Chipwa aangekom en na die gebruiklike groet van ons eie sendeling daar  en die hoofman slaan ons as voorlopers die tentkamp op sodat ons kan begin met die program sodra die tweede groep arriveer. Die VSA studente is vol afwagting oor alles wat voorlê...
Ons as span het weereens as deel van ons voorbereiding vir die naweek na dvd's gekyk oor "Divine healing", die Woord bestudeer en gebid vir die Here se leiding vir die naweek. Min het ons geweet wat wag.
'n "Prayer walk" is eerste op die program vir Vrydag-agtermiddag en die span verdeel weer in twee. Die jonges en fikses takel die roete berg op en bid en sing lofliedere van bo die koppie wat oor Chipwa uitkyk. Sowat 20 vroue van ons sendeling se vrou se damesgroep sluit aan by die deel van die span. Ons vra hul waarvoor moet ons bid en weereens kom dieselfde dinge uit: heksery, alkoholisme, liefde vir geld, ontrouheid in die huwelik, leuens en malaria.
Vir die wat deel was van die "prayer walk" was dit 'n wonderlike ervaring. Ons wat agter bly het ook gou 'n gehoor en ons leier se vrou gee 'n lessie in wiskunde "tafels" en gou loop dit uit op "worship"! Dit blyk die Here se program verskil van myne, en dit werk!
Die "prayer walk" duur amper twee ure ipv 'n uur soos beplan. Na aandete vertel David vir die sowat 30 mense die Bybel verhaal van Genesis tot Jesus, spesifiek met die doel om hul voor te berei vir die Jesus film Saterdagaand.
Vier mense neem 'n besluit vir Jesus as hul verlosser. Ons weet die engele juig en ons is dankbaar.
Tydens ons voorbereiding voel 'n spanlid dat ons as span sewe keer om die gebou moet loop waar ons die "bid kliniek" gaan hou. Soos die Isrealiete van ouds. Ons loop en sing psalms, lofliedere en bid . Ons bid oor enige versteekte "charms" in die gebou, verbreek deur gebed die krag van enige rituele wat in of oor die gebou gedoen is. Die skoolgebou waar ons die "kliniek" hou is ver uit die woongebied en ons wonder of die mense so ver sal kom omdat ons nie  medisyne het nie.
Alreeds het die, wat ons as  verpleegsters herken het begin vra oor die kliniek. Ons bid dat die Here dié sal stuur wat Hom nodig het as die Groot Geneesheer. En jou waarlik hulle kom! Alle eer aan God!
Gou raak dit 'n. demone-slagveld en ons moet verskuif na 'n klaskamer langsaan. Ons sien en beleef die kragtige werking van die Heilige Gees en die uitwerking van die net die "Naam van Jesus" op die demone. Een na die ander bevry die Here die mense van demone. Ons bid, huil van aandoening, bid, prys en lê hande op. Ons beleef die outoriteit wat ons het in Jesus. Die Heilige Gees maak ons oë oop en lei ons waarvoor om te bid. Ons sien die versteekte "charms" die toordokter se "tatoos" op die arms, bene en lywe.
Ons bid vir 'n pragtige jong meisie met erge misvorming van haar rug. Sy droom gereeld van baie slange wat sy probeer doodtrap in die drome maar kry dit nie reg nie. Ons sien hoe sy wriemel soos 'n slang met ongelooflike krag. Na so 6 minute raak sy doodkalm. Sy staan op van die vloer af en haar rug is so reguit soos kan kom en skouers perfek. Prys die Here! Iemand wag soos hul uitkom om die evangelie aan hul te gee en word ook na die kerk verwys vir dissipelskap. In Lukas 11:24 tot 26 leer onse Here Jesus ons dat: "Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: 'Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.' Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n man slegter daaraan toe as aan die begin." Dit hoekom ons dadelik begin met dissipelskap!
Ons sien die ou oompie uitstap sonder sy kiere en sy kreupel-waggel van 1 uur te vore. Ons is oorstelp en ons geloof groei, groei, groei en groei.
Later die aand daag sowat 350 mense op vir die Jesus film.
Voordat ons die Jesus film wys doen ons 'n kort drama genaamd: "The Burden". Dit tref in die kol want dit gaan oor die laste soos die geld-god, drankmisbruik en toordery.
Hul bibber van die koue wind wat waai maar hul sit en kyk. Hulle hoor van Ringwell 'n spanlid, hoekom ons almal Jesus nodig het as ons Koning. Sowat 35 mense neem Jesus aan as verlosser en ons is dankbaar en in verwondering. Dankie Here!
Sondag oggend gaan 'n deel van die span oor na die deel Chipwa village wat in Tanzanië geleë is. Net die Colomborivier skei die twee villages. Ons doen weer die "burden" drama soos Saterdagaand en ons bid vir verskeie siekes.
Jul vra dalk hoe weet ons 'n persoon is duiwelbesete? Ons leiers het soveel ervaring op die gebied en ons leer van hulle.
Ek, Lenie verstaan ook nou hoekom so baie mense met dieselfde simptome na die vorige "mediese" klinieke gekom het wat ons in die verlede gehou het.
Die volgende dinge is 'n goeie aanduiding van die teenwoordigheid van demone in 'n mens: algemene liggaamspyne, angs, hoofpyne, baie vinnige hartklop, maagpyne, drome van dood, drome van slange, drome van leeus, drome van beeste of enige diere wat hul jaag, drome van mense wat hul vreemde goed wil laat eet. Ons leer baie en later kan ons al beter sien hoe so 'n persoon se gesigsuitdrukking en oë lyk.
Sjoe! Ons beleef dinge wat ons nooit self sou geglo het nie.

Baie moeg kom ons Sondagmiddag by die basis aan en bly steeds dankbaar en vol verwondering.

In die Naam van Jesus van Nasaret bid ons julle Sy liefde en seën toe!

Lenie en Ockie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking