Dinsdag 25 Junie 2013

17 - 23 Junie 2013

Hier is ’n baba-dogtertjie van 17 maande (Kenssane, foto onder) sy het Down sindroom en ’n gaatjie in haar hart, sy kan sit maar nog nie staan of loop nie. Sy moet ’n hart operasie ondergaan en daarvoor moet sy eers 6kg weeg, sy het nou 6kg bereik. Die afgelope paar weke is daar beplan om 10 eenhede bloed vir haar te kry en dit werk so, indien 10 persone gaan bloed skenk by die bloedbank, dan sal die bloedbank die 10 eenhede in die tipe bloed wat benodig word vir die operasie aan die hospitaal gratis voorsien. Hierdie skenking kan egter nie te vroegtydig gedoen word nie, want dan vergeet die bloedbank daarvan en ook nie te laat nie, want dan is daar nie tyd om al die toetse op die bloed te doen nie. Vroeg die maand word verneem dat die operasie op Woensdag 26 Junie gedoen gaan word en reëlings word vir die bloedstorie gedoen wat Donderdag plaasvind. Alta is een van die skenkers. Die skenkers moet 9 uur reg wees om met die bus stad toe geneem te word, ’n ander vrou met oog-probleme en ’n sendeling, om haar te help, gaan ook saam. Vroër die maand het van die wat belowe het om bloed vir Kenssane te skenk, bloed geskenk vir ’n ander kind en dus is die skenkers maar redelik skaars. Ons is 7 sendelinge wat gaan en 3 van die Bybelskoolstudente.
Die vrou met die oogprobleem word karsiek, dit is die vrou waarvan ons ’n tydgelede vertel het wat die busbestuurders geweier op te laai, en trap die bestuurder uit omdat hy solank neem om daar te kom. Die bloedbank is bietjie oorweldig met die skielike groot aantal mense wat bloed kom skenk, maar hanteer dit heel goed. Eers moet ons in ’n ry wag waar ons geweeg, bloedruk gemeet en ’n vingerprik kry om te kyk of ons geskik is om bloed te skenk. Dis dan ook net hier waar een wat te lig is weggewys word en ons skielik ’n ander skenker moet opspoor. Die busbestuurder word gevra en hy willig in!  Een van die eerstes wat se bloed getrek word, word flou op die stoel. Sy vertel agterna dat die sakkie vreeslik vinnig vol geraak het en toe voel sy of al die bloed uit haar kop is en dis toe dat sy flou word. Alles het verder goed verloop. ’n Paar het gekla dat hul maar rof met die naald se insteek was, as hul die aar nie raak gesteek het nie, het hulle die naald heen-en-weer beweeg tot hul die aar kry. Na die bloedskenk het ons die ander 2 wat vroër afgelaai is, weer gaan oplaai en weer afgelaai en gaan KFC koop. Ons was eers weer 15:00 terug by die sentrum. Nou bid ons dat alles goed sal verloop en dat die bloed wel Woensdag by die hart hospitaal sal wees vir die operasie. (daar was Maandagaand voor die operasie klaar gerugte dat die bloed nie betyds by die hospitaal gaan wees nie, weens die dokters se staking wat die beskikbaarheid van bloed beïnvloed)

Hier is ook 2 ander dogters wat baie siek is vir wie ons die laaste week al voor bid. Een is ’n tiener wat ’n diabeet is en aanhoudend opgooi, sy is in intensief en die ander een is ’n dogter van 5jaar wat ook opgooi en die toetse lewer geen resultate nie. Hulle het al talle kere vir malaria getoets en sy is nou in afsondering want hul vermoed breinvliesontsteking. Hulle het egter vir ons vertel dat toe sy in die saal was saam met die ander, sy vir die ander kinders bid, van Jesus vertel en lofliedere gesing het. Pragtige getuienis vir so ’n klein dogtertjie.

Donderdagaand hoor ons vir die eerste keer dat daar politieke probleme hier is (ons kyk of luister nie nuus nie). Dit is egter so 1000km noord van ons en raak ons nog nie.

Vrydag is ons vir die naweek deur SA toe vir die maandelikse stempel van paspoorte, medisyne en kos.


Kenssane

Hierdie foto is nou gekry en wys hoe Petrus geluk gewens is met sy verjaarsdag 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking