Dinsdag 22 April 2014

14 April – 22 April 2014

Ons pak die Portugees die week aan met een van die seuns in die camerata om ons te help met sinskonstruksie en uitspraak. Na ’n besige dag voel dit of  die inligting te veel vir ons breine is. Ons gaan dit 3 maal ’n week doen.
Alta help uit in die ‘nursery’, want die mense wat daar toesig hou, moet Suid-Afrika toe om aansoek te doen vir die verlenging van hul visa. Daar is 3 nuwe kinders; tweeling dogtertjies van ’n jaar, baie ondervoed en hulle kan skaars sit, lyk soos klein 6maande baba gewoonlik lyk en nog ’n dogtertjie van 5 maande wat soos ‘n 2maande oue baba lyk, net langer. Sy lyk vir my oud, haar gesigies is verrimpel. Dit maak mens sommer hartseer om sulke kinders te sien, daar is geen lig in die tweeling se ogies nie, nie eers as daar met hulle gespeel word nie.
Woensdag ongeveer 13:00 kry ons ’n oproep, daar is ’n nuwe seun, hulle het gedink om hom by camerata 5 te plaas, maar hy is te groot en hul dink dit sal beter wees as hy by ons geplaas word. Hy en sy boetie(baby house) is deur ’n ‘ouma’ van die gemeenskap versorg terwyl die ma in die hospitaal is. Die kerk het met die familie gepraat, maar die sien nie kans vir nog kinders nie en het toestemming gegee dat hulle Iris kontak om die kinders op te neem. Dis vinnig klere bymekaar sit vir hom, want niks word by die families geneem nie.
Die gas van Pemba wat agter moes bly, geniet die kinders en help met aktiwiteite, hy is nogal goed met hulle en hulle geniet die man wat met hulle speel. Die ou van Suid-Afrika sukkel nog met die bakkie. Die plan is dat hy Woensdag sal terugkom en dan vlieg hul Donderdag op Pemba toe en kom so oor 2 of 3 weke terug om die kar en die ander goed wat gestoor word, te kom haal.
Ons ry Donderdag teen 11:00, vir die maandelikse uit en in, grens toe en Marloth toe vir die naweek. Toe ons die e-posse oopmaak sien ons dat nog ’n seun volgende week huis toe gaan. Die 2 boeties is beide in die sentrum en die oudste een sou huistoe gaan, maar die jonger een sou eers bly en later in die jaar gaan. Die ma het blykbaar versoek dat hy ook nou kan gaan, ons is bly daaroor, want hy sou dit baie moeilik aanvaar het om te moes bly.

Gededsversoeke:
Bid asseblief vir die kinders wat terug geplaas is, vir aanpassing en inskakeling, sodat hulle daar ook gelukkig sal wees en sal onthou wat hul hier van Jesus geleer het en altyd aan Hom sal vashou en glo.
Vir samewerking van die personeel met die sendelinge.
Vir die camerata met al die uitplasings en die nuwe kind en sy boetie.
Vir die wat siek is en beskerming teen malaria en allerhande ander siektes.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking